Staatmaker tree af ná jare diens
2011-08-11
NÁ byna 46 jaar in die politiek en in diens van die gemeenskap het Johann von Wielligh (73), oud-wykraadslid vir Wyk 2 (Wellington), besluit om vanjaar die politieke en openbare toneel vaarwel toe te roep om plek te maak vir die genieting van ’n rustiger lewe en ’n minder bedrywige dagboek. Dié gebore en getoë Paarliet en oudleerder van Hoërskool Gimnasium het die politieke arena in 1965 betree toe hy verkies is tot die bestuur van die eertydse Perdeberg-tak van die Nasionale Party. Benewens hierdie pos was hy ook deur die jare onder andere voorsitter van die direksie van die Perdeberg Buitepos-gevangenis, lid van die direksie van die Boland Koöp Wynkelder, kommandant van die Paarlse Voortrekkerkommando en lid van die Paarlse Hospitaalraad. Ook het hy voltyds geboer op die familieplaas Pakhuisdam buite die Paarl, die derde geslag wat hierby betrokke was. Sy besige skedule het egter veroorsaak dat hy nie genoegsame aandag aan die boerdery kon gee nie en het hom genoop om die plaas te verkoop, waarna hy en sy vrou met hul vier kinders hulle op Wellington gevestig het. Aan die einde van 1980 is Wellington afgebaken as ’n volwaardige kiesafdeling en is hy versoek om homself beskikbaar te stel as Wellington se kandidaat vir die Provinsiale Raad van Kaapland. Hy is onbestrede verkies en tree toe tot die Provinsiale Raad as die eerste en enigste LPR vir dié nuwe kiesafdeling. In 1989 word hy deur die NP-koukus van die Parlement verkies tot lid van die Presidentsraad van oud-president FW de Klerk, wat uiteindelik in 1993 uitfaseer is. Tussen 1995 en 2000 dien hy daarna as lid van die stadsraad van Wellington en in 2000 word hy as die DA se kandidaat vir Wyk 2 as raadslid van die Drakenstein Munisipaliteit verkies, ’n posisie wat hy tot Mei vanjaar beklee het. In dié tyd het hy verskeie projekte geloods en inisiatiewe van stapel gestuur, waaronder die oprigting van verskeie spoedwalle in die wyk, die verkryging van finansiering vir die oprigting van ’n veiligheidsheining rondom die perseel van Ouma Granny’s House, voetoorgange in Kerkstraat, befondsing vir opknappingsprojekte by Huis Andrew Murray, asook befondsing vir die ACVV van Wellington om ’n kospakkieprojek vir behoeftiges aan die gang te hou. Op 22 Maart vanjaar het hy, in samewerking met die Munisipaliteit, die projek geloods vir die insameling van herwinbare huisafval in Wyk 2. Op die gemeenskapsfront was hy onder andere voorsitter van die Wellington Verfraaiingskomitee, die Wellington Erfenis- en Omgewingskomitee, die beheerliggaam van Hugenote Hoërskool en trustee van die Wellington Museum. Deur al die jare, sê hy, kon hy altyd staatmaak op sy vrou en vier kinders se ondersteuning en begrip. “Daar was tye wat pa lank van die huis weg moes wees en hulle moes dit maar net verduur. My vrou het egter waardevolle vriendskappe gesmee en die geleentheid gehad om unieke en spesiale geleenthede mee te maak.” Op die vraag wat hy die meeste gaan mis van sy vorige loopbaan, kom die antwoord: “Definitief die direkte betrokkenheid en waardevolle verhoudinge met mense.” Hy voeg by, “Ek dank my Hemelse Vader vir die talle geleenthede tot dienslewering en dat Hy nog elke dag voorsien in krag, gesondheid en waardevolle herinneringe.”
More
News
|