Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Polisieman weer by die werk ná verlamming

Polisieman weer by die werk ná verlamming
 
2011-08-11

Lise Beyers

SESTIEN maande gelede was Quinton Cupido ’n bedrywige polisieman, pa, eggenote en sportafrigter.

Vandag is hy egter vasgepen in ’n rolstoel nadat ’n motorongeluk sy lewe onherroepelik verander het.

Cupido (43) was in April 2010 in ’n polisievoertuig onderweg na ’n misdaadtoneel toe die voertuig se wiel gebars het toe dit ’n slaggat getref het. Die motor het gerol en hy is daarin vasgepen.

“Ek was by my volle bewussyn en het dadelik gevoel iets is fout toe ek nie my bene kon voel nie.”

Cupido is per ambulans na die Paarl MediClinic geneem en by nadere ondersoek het dokters vasgestel dat sy rug gebreek is.

Dokters het aan hom gesê dat hulle nog nooit so ’n ernstige rugbesering gesien het wat ’n persoon oorleef het nie.

Hy is vanaf MediClinic per helikopter oorgeplaas na Groote Schuur Hospitaal se spinale-eenheid en dit sou sy tuiste wees vir die volgende vier maande.

Dit was nie net vir Quinton ’n groot skok toe hy ingelig is dat hy vanaf die bors verlam is en dat hy nooit weer sal loop nie. Vir sy vrou Lucille was dit byna nog meer van ’n skok.

“Quinton was nog altyd ons steunpilaar. Hy was die hoof van die huis en boonop so aktief.”

Hul twee kinders, Lauren (16) en Wayne (13), ontvang vandag nog berading saam met Lucille.

En stadig maar seker is die Cupido’s se lewe besig om te herstel, soos wat hulle gewoond raak aan Quinton se omstandighede en terselfdertyd probeer vrede maak daarmee.

Maar Lucille vertel dat nie ’n maklike pad is nie.

“Dis nou meer as ’n jaar na die ongeluk en dit is steeds vir my ’n geweldige skok. Daar was baie aanpassingsprobleme toe Quinton huis toe kom en dit het vir my gevoel asof die hekkies te hoog is om oor te kom.

“Ek moes my werk los om hom te versorg en in die begin was dit ’n 24 uur taak.”

Daar moes duisende rande se verbouings aan hulle huis aangebring word om dit meer gemaklik vir Quinton te maak wat slegs met ’n rolstoel kan beweeg.

Maar die grootste aanpassing vir Quinton was om van voor af te leer hoe om alles met sy arms te doen. Hulle is immers nou sy bene ook.

“Die grootste uitdaging vir my was om so gou as moontlik so onafhanklik moontlik te wees. Ek wil daar wees vir my familie en ek wil ook nie hê dat mense na my moet kyk as die ou in die rolstoel nie, maar as die ou Quinton.”

Maar, soos wat Quinton sê, die lewe gaan aan en hy was baie opgewonde om onlangs sy loopbaan as polisieman voort te sit, toe hy by die Paarl polisiestasie ingeklok het op sy nuwe pos as vuurwapenbeheerbeampte.

En boonop het die SA Polisiediens ’n diensmotor aan hom verskaf wat ingerig is vir parapleë.

“Dit is wonderlik om terug te wees by my kollegas. Ek is wel nou nie meer ’n polisieman wat agter misdadigers aanhardloop nie, maar die werk wat ek nou doen met vuurwapenaansoeke is interessant en dit hou my aan die gang.”

Quinton streef nou ook om as sportman weer aktief te raak. ’n Hoogtepunt van sy jaar was toe hy en Lucille die 5 km stapgedeelte van die Freedom Run by Drakenstein Gevangenis voltooi het.

Voor sy ongeluk het hy klubrugby op Klapmuts afgerig en was hy self ’n fiksheid-entoesias.

“Dokters het vir my gesê dat omdat ek fiks en gesond was, het ek so goed herstel ná die ongeluk.

“Ek wil nou baie graag deelneem aan rolstoeltafeltennis en dan ook tennis.”

Stadig maar seker is die Cupido’s besig om hul lewens te herbou.

Beide Quinton en Lucille is reeds genader om as motiveringsprekers op te tree om die publiek te wys dat die lewe suksesvol kan voortgaan, al tref groot rampe ’n mens.

“Eendag sal ons sien dat daar ’n doel was met ons huidige omstandighede.”

* A policeman who was paralysed last year in a car accident has returned to work and is positive about the future.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za