Engel help jong kankerlyers
2011-08-25
THOMAS ENGELA mag dalk voorkom as ’n groot en kragtige man, maar sy hart breek nes die fynste kristalglas. Dít was weer duidelik hierdie week, toe Engela die nuus ontvang het van die tweejarige Zané Koch wat verlede week met ’n baie groot breingewas gediagnoseer is. Die gewas was die grootte van ’n tennisbal en sy moes so gou moontlik onder die mes beland om dit te laat verwyder. Engela, ’n stigter van die Little Fighters Cancer Trust wat daarop gemik is om bystand te gee aan families wie se kinders slagoffers van kanker word, het só in die Koch-familie se lewe beland. Alhoewel hulle vreemdelinge is, benader Engela hulle asof hulle lankal vriende is. Ná ’n evaluering van die Koch’s se omstandighede, het Engela vasgestel dat skaars ’n week na Zané se tragiese diagnose, was hulle reeds in ’n finansiële verknorsing weens astronomiese mediese kostes. “Gedurende die afgelope vier dae alleen is hul mediese rekening reeds R25 000 en boonop betaal die mediese fonds net ’n sekere bedrag vir behandeling en hospitalisasie in ’n staatshospitaal, wat neerkom op net twee weke se verblyf. “Die gesin gaan nou heen-en-weer moet ry tussen die Rooi Kruis-hospitaal, wat 130 km per rit is. En dit is maar net die begin van ellelange rekeninge wat gaan begin oploop.” Engela ken hierdie scenario al te goed. Dit is juis hieroor dat hy en sy vrou, Tania, Little Fighters gestig het: “Nadat ons persoonlike ervaring gehad het met vriende wat byna finansieel verlam is deur hul kind se kanker, het ons ’n daadwerklike poging aangewend om families wat in dieselfde bootjie sit, te help.” Nou, 18 maande nadat hulle die Little Fighters Trust geskep het, kom hulle daagliks in hartverskeurende situasies waar kinders teen die dood stry, terwyl hul ouers hulpeloos moet toekyk en finansieel uitgeput word. “Dit is baie moeilik. Elke kind en familie roer ons hartsnare. Ons het baie mooi verhale om te vertel van kinders wat die stryd teen kanker oorwin, maar dan moes ons al ook 18 kinders in hierdie kort tydperk begrawe wat baie naby aan ons was. “Dit vat werklik aan ons, maar dis die positiewe uiteindes wat ons laat voortgaan.” Die trust help kankerlyers op enige manier moontlik, of dit vervoer na en van hospitale is, kos, klere, of net ’n algemene helpende hand. Skenkings met Zané as verwysing kan gemaak word aan Little Fighters Cancer Organisation in hul bankrekening 62277783249 by FNB Paarl Mall (takkode 250057). Die trust se registrasienommer is IT2817/2010. Vir nog inligting, besoek hul webwerf by www.littlefighters.org.za of hul Facebook profiel.
More
News
|