Ou hand met nuwe kwekery
2011-09-08
’n OU hand in die tuinbedryf het die naweek die hekke na ‘n splinternuwe kwekery oopgesluit, Pink Geranium, aan die Klipheuwelpad teen die N1. James Fisk van die Paarl en sy assistent, Anré Jansen van Rensburg, glo elke seisoen het sy eie hartklop en daarvoor bied hulle besondere, rare plante wat goed aard in hierdie omgewing. ‘n Golf van clivias en watsonias, irisse, daglelies en agapanthus – selfs ‘n pikswart agapant met die naam Black Magic – spoel oor die kwekery op die Winterstroomplaas. Eersdaags is dit die somerreeks, met outydse en nuwe rose, bougainvilleas en besondere Krismisrose wat aangebied word. Daar is nie net die nuutste plante op die mark beskikbaar nie, maar ook die plante wat in ouma se tuin gegroei het en nou weer naam maak, soos die Pride of Madeira. Meerjarige, kruidagtige plante wat selfs in droogtetye geil blom, is volop in die kwekery. Daar is ‘n Crassula met pragtige pienk blommetjies, sterk genoeg om op te loop sodat dit as grasperk geplant kan word. In die kombuistuin gedy appeliefies en miniatuur sonneblomme wag vir die warm weer om hul gesiggies te wys. Dis rustig in die onderdak-houtskerm waaruit voëls op die dam bekyk kan word. Die bloedrooi vinke gesels en maak nes tot teen die skerm, reuse reiers stap statig op soek na paddas, kiewiete patrolleer die damwal, lepelaars dans en die bleshoendertjies baljaar tussen die wilde eende. Tuin-en patioversierings, linne en eetgerei vir die tuin-kuier, interessante potte en vate en self ‘n reeks klere is ‘n draailoop werd voordat jy met baie nuwe idees en ‘n kattebak vol plante huiswaarts keer. .
More
News
|