Kobus Louw gegroet
2005-11-10
EEN van die Paarl se groot geeste is verlede week na ’n kort siekte op die ouderdom van 91 oorlede.
Kobus Louw word beskou as een van Springbokrugby se voorste administrateurs, asook ’n baanbreker op die gebied van onderwys.
Hy was die laaste oorlewende van dertien kinders wat op die familieplaas Labori gebore is. Hy het sy skoolloopbaan by Boishaai voltooi, waarna hy aan die universiteit van Stellenbosch ’n B.Sc. graad verkry het.
Hy het vir WP en Vrystaat provinsiale rugby gespeel en was uitvoerende bestuurslid van die SA Rugbyraad.
Tydens die 1961 en 1965 Springboktoere na Australië en Nieu-Seeland was hy die bestuurder van die rugbyspan. Hy het Suid-Afrika ook verteenwoordig in die Internasionale Rugbyraad.
Louw het homself eers as onderwyser gevestig as direkteur van onderwys en later as die eerste registrateur van die Universiteit van die Wes-Kaapland.
Louw se vrou, Gita, is in 1993 oorlede. Hy word oorleef deur sy dogter, Diana Loock van Colesberg, vier kleinkinders en vyf agterkleinkinders.
Diana het gesê dat na haar pa se 90ste verjaarsdag het hy en sy nog ’n maand in Europa deurgebring.
’n Dankdiens is Woensdag in die Strooidakkerk gehou.
More
News
|