Groot pryse vir betalers
2005-11-17
INWONERS van Drakenstein wat op datum is met hul munisipale rekenings kan binnekort die eerste pryse wen in ’n kompetisie van die Munisipaliteit.
Volgens uitvoerende burgemeester Herman Bailey sal die eerste trekking vir pryse op Woensdag 14 Desember in die Paarlse Stadsaal plaasvind.
Daar is twee kategorieë vir pryswenners. In die eerste kategorie val diegene wat agterstallig is met die betaling van hul rekenings, maar tans tog elke maand hulle rekenings betaal.
In dié afdeling sal 15 verbruikers elkeen R100 se gratis elektrisiteit ontvang terwyl nog vier wenners bedrae van R500, R1000, R1500 en die groot prys van R2500 wen.
In die ander kategorie kan vyf pryse gewen word. Dis die afdeling vir mense wat geensins agterstallig is nie, en ook gereeld hulle maandelikse rekenings betaal.
Die eerste vier pryse is kontant ter waarde van R4000, R8000, R13 000 en R25 000, met ’n eerste prys is ’n splinternuwe motor van R100 000.
’n Onafhanklike ouditeursfirma sal die prystrekking in die stadsaal hanteer, het Bailey gesê.
Hy het bygevoeg dat geen munisipale werker of raadslid vir enige prys in aanmerking sal kom nie.
Familie- of gesinslede van munisipale amptenare of raadslede mag wel ’n prys wen, solank hulle nie onder dieselfde dak as laasgenoemde woon nie.
Meer inligting oor die trekking op 14 Desember sal binnekort bekend gemaak word.
More
News
|