Plaaslewe gevier
2005-11-24
Met omarmende Bolandse hartlikheid - en met Coenie de Villiers as gaskunstenaar - is daar Saterdagaand in die Bovlei sommer driedubbeld feesgevier aan ‘n driehonderste verjaarsdag, ‘n gesogte brandewyntoekenning en die 142 skrywers van ‘n nuwe bundel plaasstories.
Die driehonderste verjaarsdag is natuurlik dié van De Compagnie, wynplaas van prokureur Johann Loubser en sy skrywersvrou Riana Scheepers, wat die 21ste stel eienaars in die drie eeue bestaan van die plaas is. Dit is in 1705 die eerste keer deur die VOC aan ‘n eienaar toegeken.
Hulle het ook die geleentheid gebruik om die silwer Michelangelo internasionale toekenning wat die De Compagnie brandewyn vroeër vanjaar gewen het, te vier. Dit is die eerste keer dat dié toekenning aan ‘n Suid-Afrikaanse brandewyn gemaak is.
As deel van die plaas se 300ste verjaarsdag het Johann vroeër vanjaar by Riana die saadjie geplant om ‘n bundel kortverhale met “plaas” as die tema saam te stel.
Sy het saam met De Compagnie se ander skrywer, Nici Thabo, wyd en syd mense genooi om hul vertellings en verhale in Bovlei se rigting te stuur, vir moontlike insluiting in die bundel “Die melkweg het ‘n ster laat val”.
Volgens Riana was die reaksie oorweldigend, met meer as 300 inskrywings wat van sover as België, Nederland, Londen, Taiwan en China ontvang is.
“Ek het tientalle verhale moes oortik van pampiertjies en geskriffies en notisietjies wat per pos gestuur is.”
Gevestigde skrywers soos Koos Kombuis, Francois Bloemhof, Winnie Rust, Christiaan Bakkes, Margaret Bakkes, Ronnie Belcher, Margot Luyt, Wium van Zyl en Nanette van Rooyen word in die bundel opgeneem.
Benewens Winnie is daar ook talle ander Wellingtonners onder die 142 suksesvolle inskrywings. Hulle is Johan Anker (“Reünie”), Engela Duvenage (“Kalklig vir ‘n Karooplaas”), Hannes Kotze (“Ons Waaidammers”), Amanda Kreitzer (“Beginsel”), Kathleen Kruger (“Oggenddou”), Gideon Niewoudt (“Tandetrek met ‘n kinkel”), Sandra Visser (“Die bekertjie tenkwater”) en Marietjie Williams (“Net een liefde”).
Paarliete Adel Jadra (“Ek sal nié stilbly nié”) en Luzelle-Marié Möller (“Die wegraap van die koejawels”) is ook in die bundel ingesluit. Riana en Nici het ook elk ‘n storie in die omvattende bundel, wat na verwagting in September volgende jaar deur Human & Rousseau uitgegee sal word.
‘n Kompetisie is ook uitgeskryf vir die beste verhale, en die wenners is Saterdagaand aangekondig. Die beoordeling daarvan is behartig deur kortverhaalskrywer Abraham de Vries.
In die ope afdeling het Gerda Taljaart van Tshwane se “See toe” gewen, gevolg deur Koos Kombuis met sy “Die etter op die werf”.
Riana was veral opgewonde oor die oorweldigende reaksie wat ontvang is van voorheen ongepubliseerde bruin skrywers wat in Afrikaans skryf.
Die pryswenner in hierdie kategorie was die 80-jarige Lydia Hendricks van Cloetesville, wat haar herinneringe in “Die Heuningswaaier” neergeskryf het van die plaas waar Voorberg Gevangenis vandag staan.
Onder die gaste was Ton Vosloo, direkteur van Naspers, wie se vrou Anet Pienaar-Vosloo ook een van die skrywers is wie se kortverhaal in die bundel opgeneem sal word, uitgewer Hettie Scholtz en Willem Botha van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal.
Volgens Riana het sy lanklaas in haar lewe so hard gewerk aan ‘n projek.
“Nie eens aan een van my eie boeke het ek soveel ure voor my rekenaar spandeer nie - maar dit was alles die moeite werd.”
“Die verskeidenheid verhale, die verskillende temas, van skreeusnaaks tot hartroerend hartseer, die uiteenlopende style van die verhale het my vasgenael gehou.”
“Hier kom een van die mooiste publikasies van die jaar 2006!” voorspel sy.
* The compilation of a short story anthology on farm life including local authors was celebrated in Wellington last week.
More
News
|