Wellington se trots
2005-11-24
AL is hulle op twee verskillende terreine - sosiaal-maatskaplike werk en kultuursake - betrokke, het hulle een ding in gemeen: albei is ‘Afrikone' waarop Wellingtonners trots kan wees.
Kultuur-entoesias dr Etienne Smit en Marietjie Bezuidenhout, uitvoerende lid van Procare, is onlangs in Durbanville deur die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) vereer as Afrikone.
Die Afrikoon-toekennings is ‘n manier waardeur die ATKV tydens hul 75ste feesjaar landswyd erkenning gee aan Suid-Afrikaners wat op ‘n besondere manier bydra tot ‘n suksesvolle Suid-Afrika.
Marietjie het ‘n oorkonde ontvang vir haar betrokkenheid op sosiaal-maatskaplike gebied.
Sy is deel van ‘n private praktyk van maatskaplike werkers, Procare, wat maatskaplike dienste lewer aan ondernemings en opvoedkundige instellings.
Een van Procare se grootste suksesse is die gebruik van veral teater as opvoedkundige medium om sosiale en morele kwessies aan te spreek, waarby Marietjie as uitvoerende lid betrokke is.
Die Wellingtonse ATKV-tak het vir dr Etienne Smit, oud-rektor van die Wellington Onderwyskollege en voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie, benoem vir sy besondere bydrae tot die ontwikkeling van die Afrikaanse taal en sy waardevolle bydrae tot die onderwys.
Noem maar ‘n plaaslike kultuurgebeurtenis, en dr Smit sal bes moontlik daarmee gemoeid wees. Hy is aktief betrokke by die Vriende van die Wellington Museum, en ook voorsitter van die plaaslike Vriende van Afrikaans-tak.
Met Taaldag elke jaar in Augustus val dit op sy skouers om aktiwiteite ter viering daarvan plaaslik te organiseer.
Volgens die ATKV het dr Smit ‘n kernaandeel gehad in die herstel en ontwikkeling van die historiese Goodnowsaal as ‘n kuns- en kultuursentrum.
Hy het ‘n lewendige belangstelling in die Anglo-Boereoorlog eeufees gehad en ook ‘n artikel oor Wellingtonners se betrokkenheid daarin geskryf.
Een van sy grootste pogings was die inisiëring van die Viva Wellington 2000 - ‘n projek waar hy die rol van beplanner, koördineerder en motiveerder van ‘n navorsingspan gespeel het.
Danksy sy span se deeglike navorsing is ‘n boek van drie bundels saamgestel oor die geskiedenis van die dorp.
Vir sy groot bydrae tot die taal en kultuur het die Wellington-ATKV-tak in 2000 ‘n eretoekenning aan hom gegee, en is hy ook in dieselfde jaar vereer vir sy gemeenskapsbetrokkenheid as Wellingtonner van die Jaar.
Paarliete Ben en Ria de Goede is ook vereer vir hul besondere bydrae op kultuur en maatskaplike gebied in die Paarl
* Two Wellington residents have been honoured for their cultural work.
More
News
|