Ria van der Sluys oorlede
2005-12-01
’n BEKENDE Paarliet, Ria van der Sluys (92), is verlede Woensdag in Huis Vergenoegd oorlede na ’n kort siekbed.
Haar eggenoote Jan, was die stigter van die bekende boufirma Van der Sluys in die Paarl.
Ria is op 22 Oktober 1913 in Hilversum, Nederland, gebore as Maria Jansen. Sy is in 1938 met Jan getroud, wat ’n boukontrakteur was in Apeldoorn.
Sy was bestuurderes van die bekende materiaalwinkel Van Dam. Die oudste vier kinders word ook daar gebore.
Tydens die Tweede Wêreldoorlog word Jan gevange geneem en beland in ’n Duitse konsentrasiekamp, terwyl sy die pot tuis aan die kook hou.
Ná die oorlog, in 1948, verhuis hulle na Suid-Afrika en vestig hulle in die Paarl, waar Jan dadelik as boukontrakteur werk aanvaar. Met hul deursettingsvermoë en geloof het die egpaar gou aangepas in Suid-Afrika en die onderneming het gegroei.
Deur die jare was Ria aktief in die gemeenskap met diens in die Vrouesendingbond, ACVV, Kankervereniging, Lions en Libra. Sy het erelidmaatskap van die VLV Suider-Paarl ontvang na 45 jaar diens. Haar man het haar 14 jaar gelede ontval.
Sy word oorleef deur vyf kinders: Hans, Gonny du Plessis, Elsje Steyn (Pretoria), Alex en Rinus, asook 13 kleinkinders en vier agterkleinkinders. Die begrafnisdiens was gister in die NGK Suider-Paarl.
More
News
|