Raadslid sterf onverwags
2005-12-01
’n BEKENDE inwoner van Saron en DA-raadslid van Drakenstein, Patrick Smidt (46), is Saterdag uit die Calvyn Protestantse Kerk begrawe.
Smidt is op 17 November dood ná ’n hartaanval.
Sy vrou, Jo-Ann, vertel dat hy die vorige week siekerig was. Die dokter het gesê sy hart is onreëlmatig, maar hulle het nie gedink dit is rede tot kommer nie.
“Hy het die Saterdag heeldag in die bed gelê, maar Sondag wou hy op, want hy is voorgestel as ouderling.”
Donderdag 17 November het hy by die werk inmekaar gesak. Hy het die afgelope ses jaar as veiligheidsbeampte by Delmonte op Tulbagh gewerk.
Jo-Ann, wat ook daar werk, vertel dat hulle onmiddellik noodhulp toegepas het.
“Hulle het my uit die vertrek geneem terwyl hulle met hom gewerk het.” Daar was nie ’n ambulans beskikbaar nie, en hulle het hom per motor na die dokter gejaag.
“Maar hy het op pad in een van sy kollegas se arms gesterf.” Patrick het voorheen vir 18 jaar by Nestlé in Bellville gewerk. Hy en Jo-Ann is gebore en getoë op Saron.
In 2000 het hy proporsionele raadslid vir Drakenstein geword. Hy laat sy vrou en twee seuns, Shane (22) en Aerton (15), agter.
More
News
|