Geliefde juffrou tree uit
2005-12-01
’n GELIEFDE onderwyseres van Noorder-Paarl Hoërskool, Roslyn Julius (65), tree vandeesweek na 42 jaar in die onderwys uit diens. Sy het haar laaste matrikulante so pas Biologie sien skryf.
Julius het aan die Hoërskool Lückhoff gematrikuleer en studeer onderwys aan die Hewatt-kollege en later aan UWK.
Sy het onder meer by Windermere Primêr, Nebo Primêr in Tiervlei en LK Zeeman skoolgehou.
Uit haar huwelik met Ernest Julius is drie kinders, Erika, Eustace en Ruan, gebore. Eustace is op haar trou-, verjaardag gebore.
“Dink net aan die deurmekaarspul met gesken ke!”, skerts sy. In Julie 1969 het sy by Noorder-Paarl begin. Die vakke wat sy sedertdien onderrig het, was Wiskunde, Naaldwerk, Geskiedenis, Bedryfsekonomie, Musiek en Aardrykskunde.
“Ek het ook die wonderlike voorreg gehad om aan my eie drie kinders Wiskunde en Biologie te onderrig,” het sy gesê.
Na haar man se dood in 1987, het sy geleidelik oorbeweeg na Biologie-onderrig, wat eintlik sy vak was.
Sy noem dat die onderwys sy mooi jare en sy donker jare gehad het. Sy het baie bekendes die afgelope 42 jaar in haar klasse gehad.
“Ek onthou die gesigte van baie van my leerders, maar die name ontglip my. Baie van hulle groet my op straat en ek groet maar vriendelik terug,” vertel sy.
“Natuurlik gaan ek terugverlang, maar alles kom mos tot einde.
” Aan haar kollegas gee sy die raad: “Volhard en onthou - every child has the ability to succeed. Encourage them!”
More
News
|