Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Krieket en wyn in samesyn

Krieket en wyn in samesyn
 
2005-12-14

Leon Steenkamp

SY eie krieketveld het die droom wat Schalk Burger (senior) al jare lank koester, bewaarheid.

Die Welbedacht Cricket Oval op Burger se wynplaas, Welbedacht net buite Wellington, is verlede Sondag amptelik geopen toe die eerste wedstryd van die nasionale Nuffield o.13 krieketweek hier gespeel is.

“Dit is ’n pragtige hoek dié. Toe ek die plaas gekoop het, het ek geweet dis waar ek die krieketveld wil aanlê,” vertel Burger, terwyl hy ’n glasie van sy eie Cricket Pitch wynreeks geniet.

Sy begeerte om sy eie krieketveld te hê, kom al ’n lang pad en is te wyte aan beide Schalk en sy twee seuns, Schalk jnr en Tiaan, se liefde vir die spel.

“Ek het altyd gedink ek sou vir Schalk hier op die krieketveld kon dophou, maar nou moet ek langs die rugbyveld sit,” vertel Groot Schalk terwyl die o.13-spanne van die Boland en KwaZulu-Natal Binneland sake Donderdag op die veld uitspook.

“Ek hou van die tradisie en kultuur van die spel en glo dit sluit baie goed aan by wyn,” vertel Schalk terwyl hy in gedagte na sy glas staar.

“Dis iets anders vir die mense van Wellington. Ons moet nie probeer om net soos Franschhoek te wees nie. Daar is soveel dinge wat die dorp en sy omgewing die mense kan bied.”

Dié projek het in 2002 in alle erns begin, met die gelykstoot van die grond en opvul van een kant van die veld.

“Die spesifikasie van blad en veld is dieselfde as die internasionale standaarde waaraan ons velde moes voldoen het tydens die 2003 Wêreldbeker-toernooi hier in Suid-Afrika.

“Dit is een van die min gedreineerde blaaie in die Wes-Kaap,” spog Schalk met sy “veldjie”.

Kyk ’n mens na die pragtige ligging van die veld aan die voet van die Groenberge, omring met wingerd, ’n akkerboom-bos en jong plataan-bome, is dit nie moeilik om te glo dat dit beslis een van die mooiste krieketvelde in die land kan wees nie.

“Ons het die WP-span verlede week hier gehad en die ouers was gaande oor die veld. Ek het veral baie belangstelling van korporatiewe groepe gehad,” vertel Schalk en voeg by dat hy beplan om in die nuwe jaar ’n Pro 20 Golden Oldie-toernooi te hou asook gasheer te speel vir ’n wedstryd tussen twee Engelse krieketklubs.

Oor die vertoning van die blad self, is hy ewe entoesiasties.

“Die terugvoering was tot dusver goed. Ek was maar ook aan die begin ’n bietjie senuweeagtig oor hoe die blad gaan perform.”

Die harde sweetwerk om die blad, veld en klubhuis reg te kry, is gedoen deur Tiaan Burger en ’n vriend, Reghard van Dyk.

“Ons het baie raad gekry van Thys Carstens van Pro Bounce oor die bladvoorbereiding,” vertel Tiaan.

Dit is dan ook dié twee wat die bladroller Boelie gedoop het.

“Ek’s mal oor die roller. In Engeland sien jy hulle omtrent oral op die velde. Hier is hulle maar skaars en toe ek uiteindelik op een afkom, moes ek omtrent vir twee jaar sukkel om die ou te oortuig om dit aan my te verkoop,” vertel Schalk die geskiedenis van die sowat 65-jarige masjien wat deesdae sy krieketblad in toom hou.

Drie wedstryde is tydens die o.13 toernooi op die veld gespeel.
Burger se 2003 Merlot/Cabernet Sauvignon/Pinotage-versnit van die Cricket Pitch reeks is onlangs baie goed ontvang en het ’n vierster-toekenning van die wynkenner, John Platter, ontvang.

* Well-known former Springbok Schalk Burger has opened a cricket oval on his farm outside Wellington, coinciding with the launch of his Cricket Pitch wine.



More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za