Eerste boule klubkompetisie in Paarl
2005-12-21
DIE eerste boule klubkampioenskap is onlangs deur die Bergriviervallei Forum vir Afgetredenes by Noorder- Paarl Sekondêr gehou.
Elf spanne, 33 lede, het deelgeneem. Ná die rondomtaliewedstryde, waar drie per span deelgeneem het, het die top agt spanne na die uitklopronde deurgedring.
In die semi-finale het Freddie Sampson, Sarene Simpson en Frances Cupido vir Dawn Lackay, Shirley Theron en Shirley Jacobs met 13 teen 11 geklop.
Ike Kulsen, Helen Petersen en Hendrina Carolissen klop Helene Jacobs, Belinda Cloete en Yvonne Adams met 13 teen 10.
In die finaal wen die span van Ike Kulsen Freddie Sampson en sy span met 13 teen 10, en word hulle die eerste houers van ’n wisseltrofee.
Die dag se verrigtinge is met ’n vleisbraai afgesluit.
Boule is ’n Franse sportsoort. Die oorspronklike naam is Petanque, van die Franse term “Pieds Tanques”, wat “voete bymekaar” beteken. Dit verwys na die posisie waaruit die boule (’n soliede ysterbal so groot soos ’n krieketbal), gegooi word. Die baan is 3m by 12m. In ’n “drie-span-kompetisie” speel elkeen met twee balle. Die span wat eerste dertien punte aanteken, wen die wedstryd.
Die boule word gegooi of gerol na ’n “jack”, ’n klein ronde rubberballetjie wat eerste gegooi word.
Hierdie was die loodskompetisie, wat nou jaarliks aangebied sal word.
Afgetrede staatsamptenare en hul gades is welkom om aan te sluit. Kontak Freddie Sampson by 885-1106 of Louis Jacobs by 862-1623.
More
News
|