Tiener sterf ná siekbed
2006-01-12
DIE vlam van die pragtige Paarlse tiener, Cemonay Solomons (17), is uitgedoof.
Cemonay is enkele dae na Kersfees dood na ’n maandelange, moedige stryd teen kanker.
Sy is in Januarie verlede jaar gediagnoseer met gevorderde T-sel limfoom terwyl sy ’n matriekleerling aan Hoërskool Noorder-Paarl was.
Omdat haar toestand so verswak het, kon sy nie die eindeksamen aflê nie. Sy het gehoop om vanjaar voort te gaan met haar matriekloopbaan en het vas geglo dat sy die stryd sou wen.
Cemonay was gewild onder haar klasmaats, en is in 2004 as Mej Noorder-Paarl Sekondêr gekroon.
Ná drie dae se intensiewe chemoterapie in November, was Cemonay vasbeslote om haar matriek-afskeid by te woon. Sy het daar vir haar klasmaats ’n boodskap van bemoediging oorgedra.
Margareth Wright, haar klasonderwyseres, het gesê dat hulle almal ’n wonderlike mens verloor het en dat haar dood ’n geweldige slag is vir haar hegte klasgroep.
Nog ’n onderwyser, Terence Kulsen, het gesê dat Cemonay nooit tydens haar siekte gekla nie.
“Sy was juis die een wat vir almal getroos het en gesê hulle moet hulle nie oor haar kommer nie.”
“Sy was ’n treffende mens en toe sy weet dat haar dae getel is, het sy vir haar vriende en familie gevra om wit klere na haar begrafnis te dra,” het Terence gesê.
Cemonay se laaste wens was om Robbeneiland te besoek, en te sien waar haar held, Nelson Mandela, as gevangene aangehou is.
’n Privaatmaatskappy het ’n helikopterrit na die eiland vir haar gereël, maar haar toestand het tot so ’n aard verswak dat sy nie haar droom kon beleef nie.
Cemonay word oorleef deur haar pa Sammy, ma Edith, twee susters en ’n broer.
Sy is op 31 Desember vanuit die Church on the Rock ter ruste gelê.
* A Paarl matriculant has died of cancer.
More
News
|