Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Thembi vat toe klappertand pad

Thembi vat toe klappertand pad
 
2006-01-12

Malané Bosman

DIE nuwe jaar het suur begin vir ’n bejaarde goue spanjoelhond genaamd Thembi.

Hy het Oujaarsaand rustig gedut toe hy wreed deur klapperskote wakker geruk is. En dit nog op ’n vreemde vakansieplek.

Japie en Joyce Kemp van die Paarl was op Outeniquastrand, by Glentana, met hul elfjarige “kind”, toe hy uit ontsteltenis weens die lawaai die hasepad gekies het.

“Ons het mekaar nou nog nie gelukkige Nuwejaar toegewens nie, so ontsteld was ons,” onthou Joyce hierdie week.

Die egpaar kan nou weer glimlag, maar Thembi se weeklange verdwyning het hulle ure se verdriet en beslis grys hare gegee.

“Ons was die aand in Mosselbaai en Thembi in die huis by familielede op Glentana, toe hy weggeraak het.

“Ek het gebel om toe hoor of hy nie ontsteld is van die klappers nie, en toe het hy nét verdwyn.”

Hulle het dadelik na die strandhuis gejaag en begin soek, tevergeefs.

Die mans het die digte bosse om die strand deurkruis. Later het hulle gevrees ’n slang het hom dalk gepik en dat hulle net ’n lykie sal kry.

Die Kemps het groot volkleurplakkate oral in George, Mosselbaai en Groot Brakrivier opgeplak. Advertensies is in drie koerante geplaas.

Verslaggewers van ’n koerant van George het hulle oor die ouers van die “verlore kind” ontferm, en Thembi se storie en foto met
kontaknommers geplaas.

Oral het hulle leidrade gekry, maar dit was asof hulle ’n spook soek, onthou hulle.

“Mense was so wonderlik. Een man het selfs ’n megafoon aangebied dat ons deur die strate die verdwyning kon aankondig.”

Sondagmiddag kon hulle die vakansie nie langer uitrek nie, en het hulle langtand opgepak.

“Ons het geweet as ons nou ry, sien ons ons kind nooit weer nie.

“Net toe ons op die grootpad kom, kry ons ’n oproep. Dit was ’n wonderwerk. Tembi het papnat by ’n huis so 400m van ons strandhuis aangekom.”

Sy naels was afgeloop en hy was oortrek met bosluise.

“Hy was skraler, so asof hy ’n week lank op Weight Watchers was,” lag Joyce.

Hy was in haar arms, vuil en stink, maar springlewendig en self oorstelp van vreugde om weer by sy eie mense te wees.

Waar hy rondgedwaal of versorg was sal net Thembi weet, en hy verklap niks.

Hy is juis nie sommer net so ’n hond nie.

Thembi is alombekend in die Paarl waar hy saam met sy baas op hul daaglikse stappie gaan - altyd met ’n suurlemoen in die bek.

Van kleins af speel hy graag met balle, en verloor hulle net so graag.

Dis dié dat die Kemps nie omgegee het toe hy met suurlemoene begin speel nie.

Dié spelery het hom egter tot in die dierehospitaal laat beland, omdat hy ’n kakebeenprobleem ontwikkel het van die harde, groot speelgoed.

Thembi het met sy wedervaringe in wind en weer self ’n paar grys snorbaarde bygekry, maar dit pla hom nie.

Sy huismense is so dankbaar hy is terug dat hy glad weer met suurlemoene mag speel, al is dit nou net die kleintjies.

* A Cocker Spaniel has returned home after he went missing for a week during New Year’s Eve fireworks.



More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za