Paarliet eis teen kliniek
2006-01-19
BEKENDE oud-atleet en spysenier, Andries Krogmann, het ’n eis van meer as R1,8 miljoen skadevergoeding ingedien teen ’n kliniek waar sy vrou erg brandwonde opgedoen en gesterf het.
Krogmann se vrou, Marcelle, is vier jaar gelede oorlede, nadat sy in ’n stort by die Kenilworth-kliniek haar bewussyn verloor het en deur die aanhoudende vloei van warm water eerstegraadse brandwonde opgedoen het.
Sy was vir ’n week in ’n koma voordat sy oorlede is.
Volgens hofstukke voer Krogmann aan dat die voorval plaasgevind het weens nalatigheid van die kliniek en sy werknemers. Hy beweer dat die kliniek ’n regsplig teenoor sy vrou aanvaar het toe sy as pasiënt aanvaar is.
Sy is toegelaat vir behandeling weens depressie en was volgens Krogmann duiselig en onvas op haar voete.
Krogmann voer aan dat sy vrou vir hom en hul kinders onderhou het en dat sy dit sou gedoen het totdat die kinders die huis verlaat het.
Sy eis sluit ook verliese weens die huur van ’n au pair in, asook mediese en begrafniskostes.
Hy en die kinders ervaar ook emosionele skok en trauma en moes sielkundige behandeling ontvang.
Die kliniek ontken enige nalatigheid aan hul kant en voer aan dat personeel gereeld Marcelle se kamer besoek het.
Die hospitaal gaan die eis teenstaan.
More
News
|