Pollie weer in die Paarl
2006-01-19
VIR Magriet Fourie was Kersdag maar ’n hartseeraffêre nadat haar papegaai deur die wind opgeraap is en verdwyn het.
Magriet beduie dat sy en Pollie, haar twee- jarige oue African Grey, oudergewoonte op 22 Desember by die swembad gaan sit het.
’n Skielike rukwind het opgesteek, en met dié is Pollie oor die heining geslinger.
“Die een oomblik het ons nog rustig gesit, en die volgende trek Pollie deur die lug en verdwyn aan die anderkant van die heining,” het ’n geskokte Magriet gesê.
“Ek het by my hek uit gehardloop om vir haar te gaan haal, maar sy was reeds weg. Dit was die verskriklikste ding wat met my kon gebeur.”
Magriet het dadelik hierna die Paarl Post gekontak om ’n advertensie te plaas oor Pollie se verdwyning, maar ongelukkig was die volgende uitgawe van die koerant eers na die Nuwejaar.
So het Kersdag gekom en gegaan, asook die Nuwejaar, en steeds is daar geen teken van Polly nie.
“Ek het nagte lank wakker gelê en my verbeel dat ’n kat vir Pollie opvreet.”
Intussen, net om die draai van Magriet se huis in Dorpstraat, het Koos Marais ’n geweldige lawaai in sy agterplaas gehoor.
By nadere ondersoek het hy gesien dat ’n papegaai in die bosse wegkruip.
Hy sien ook dat ’n kat sy lippe aflek terwyl hy die papegaai bekruip. Daar was reeds ’n krapmerk aan sy bors.
Koos slaag toe daarin om die voël te vang, met geen idee oor waar dit vandaan gekom het of hoe om hom te versorg nie.
Hy het besluit om vir Animal Zone by Klapmuts om raad te bel.
Hulle het hom aangeraai om die papegaai dadelik na hulle te bring, waar sy versorg kon word totdat die eienaar gevind word.
Presies vier weke na die verdwyning van Pollie, het werkgewers van Animal Zone die advertensie van Magriet in die Paarl Post gesien, en sy is dadelik in kennis gestel van waar Pollie haar bevind.
“Ek het in trane uitgebars, want Pollie is soos ’n kind vir my,” sê ’n dankbare Magriet terwyl Pollie rustig op haar skouer pronk.
“Ek kan sien dat Animal Zone goed na haar gekyk het, want sy sit gedurig op my skouer en ek kan voel dat sy ’n bietjie gewig aangesit het.”
More
News
|