Al sewe jaar se droë snoek
2005-03-31
“BAIE mense dink dis ons wasgoed wat hier hang,” lag Gialle Phillippie as hy vertel van motoriste se verbasing as hulle teen Bainskloof uitry en die lang draadheining vol gedroogde snoek raaksien.
Hy is al ‘n ou hand met dié ding, want vir die afgelope sewe jaar droog hy saam met kollegas Brendon Williams, John Daniels en Mario Allies hier sowat drie ton snoek elke week.
“Die lug is soveel skoner hier, en daar is niks vlieë nie,” verduidelik John van sy “fabriek” by die parkeerplek net onderkant die bopunt van die Bainskloofpas, voor Eerste Tol se draai.
Dié Vanwyksvleiers het die blink plan gekry dat dít die ideale plek is om vis te droog, toe hulle nog groente al die pad tot in Ceres gesmous het.
Die nodige toestemming is gevra, en so het honderd stuks vis bietjies-bietjies op ‘n keer op die heining begin verskyn. Dit het egter oor die jare so uitgebrei dat die groente nou net ‘n bysaak is.
Hulle lewer af in die Paarl, Wellington en Ceres, maar die Wellingtonners is die liefste vir hul vis, stem die viermanskap saam. Party mense smoor hom, ander stoom dit bietjie, terwyl kerrievis ook nie te versmaai is nie.
“Maar die heel lekkerste is sommer net so,” glo John. Om te kan byhou by die aanvraag van die winkels, straatsmouse en mobiele winkels waaraan hulle lewer, moet hulle minstens 1500 stukke vis elke week droog.
Dit beteken dat hulle minstens drie keer ‘n week in die Waterfront moet gaan vis afhaal. As daar nie vars vis beskikbaar is nie, moet gevriestes maar doen.
Dit word na Vanwyksvlei geneem waar dit verwerk word. Elke man het sy werk - een vlek oop, die ander was af, die ander vryf sout in. Eers na nog ‘n deeglike afspoel is dit tyd vir hul rooi bakkie om teen die pas uit te ry om die snoek hoog bokant Wellington te kan gaan droog.
Dit vat hulle nie baie lank om die stukke vis op en af te haal van die draad nie. Geen wasgoedpennetjies is betrokke nie. Eers word die geel kratte vis uitgepak langs die draad, en binne ‘n halfuur is alles in ‘n japtrap opgehang.
Elke aand word dit weer afgehaal, om die proses die volgende dag weer te herhaal.
Afhangende van die weerstoestande neem dit tussen ‘n dag en ‘n half tot twee dae vir die vis om behoorlik biltong te word. Net soos met wasgoed, is ‘n ligte briesie die ideaal om dit goed droog te maak, eerder as die son.
As die Wellingtonse son so brand soos wat dit net hier rond kan doen, moet die manne bontstaan om gereeld die vis te skuif. Dan raak die draadheining so warm dat dit deur die stukke vis se voue brand, en val die vleis sommer maklik af soos dit los raak.
Veral buitelandse besoekers stop gereeld om die vreemde verskynsel van rye en rye gevlekte vis gade te slaan, en om foto’s te neem.
Dan is dit maar weer verduidelik presies hoe dit gedoen word, en dalk ‘n vinnige verkoop van ‘n stukkie om by die huis aan te gaan proe.
Mens sou dink dat na sewe jaar se viswerk elke dag, die manne nie meer lus sou wees vir dié southappie nie.
Moenie speel nie, sê John Daniels - as hy elke dag vis kan eet, sal hy doodtevrede wees.
Die manne was juis besig om te eet aan ‘n lekker stuk gebakte stokvis en gaskoeldrank van ‘n plaaslike vissery toe die Paarl Post daar kom besoek aflê het.
More
News
|