Nuwe hoof vir Hugenote Kollege
2006-01-26
DAAR is ’n stewige fondament om op te bou, meen die nuutaangestelde rektor van die Hugenote Kollege, Wellington.
Prof Johan Viljoen (49), ’n opvoedkundige sielkundige van die Universiteit van Pretoria, is aangestel as die sesde rekor van die kollege en neem die leisels oor ná die dood van prof Attie van Wijk verlede jaar.
Viljoen is die eerste rektor sonder ’n teologiese agtergrond.
Hy is ’n gebore Kapenaar wat ná sy skoolopleiding aan die Hoërskool Nassau in Mowbray ’n BA-graad met Liggaamlike Opvoedkunde en Geografie as hoofvakke aan die Universiteit van Stellenbosch behaal het.
Na sy huwelik met Susan, wat ook Liggaamlike Opvoedkunde studeer het, het hulle die volgende vier jaar op Kuruman onderwys gegee.
Daar het prof Viljoen met verdere studie aan die Universiteit van die Vrystaat begin en in 1984 ’n B.Ed.-graad verwerf. Hulle het na Port Elizabeth verhuis waar hy ’n M.Ed.-graad verwerf het.
In Pretoria was hy werksaam in die departemente Opvoedkundige Sielkunde en Kurrikulumstudies, en 14 jaar koshuishoof.
Toe die bestuurspos aan die Hugenote Kollege geadverteer is, het hy die uitdaging raakgesien.
“Ek weet reeds dit was die regte besluit,” het prof Viljoen hierdie week in sy nuwe kantoor gesê.
“Hier is ’n goeie basis om op te bou in terme van dienslewering en kwaliteit-personeel en -studente. Hier is ook ruimte vir die verhoging van navorsingsuitsette.
“Ek glo aan regverdigheid, deursigtigheid en konsekwentheid, die basiese beginsels waarop personeel bestuur word. Anders het jy probleme.”
Prof Viljoen het op skool en universiteit op provinsiale vlak aan rugby en atletiek deelgeneem, en beplan om eersdaags weer tennis en muurbal te begin speel.
Die Viljoens het twee kinders, Jana wat vanjaar ingeskryf is vir die kursus BCom (Bemarkingsbestuur) aan die Universiteit van Stellenbosch, en Bertus, in graad nege aan die Hugenote Hoërskool, Wellington.
* Huguenot College has appointed a new rector, the first without a theological background.
More
News
|