Bailey lê ketting neer
2006-02-02
Susan Botha
“EK het ’n wonderlike, verrykende loopbaan in plaaslike regering gehad en ek sou dit nie graag wou gemis het nie.”
Só vertel Herman Bailey, uitvoerende burgemeester van Drakenstein, van sy besluit om ná 35 jaar plaaslike regering vaarwel toe te roep.
Dit is ’n ontspanne man wat gemaklik agteroor leun in sy stoel terwyl hy met die Paarl Post gesels - hy het duidelik nie die stres wat die ander raadslede het met die munisipale verkiesing op hande nie.
“Toe dit in November duidelik geword het dat daar ’n verkiesing gaan wees, het ek my posisie in heroorweging geneem en besluit om nie weer te staan nie.
“Die afgelope 35 jaar was ek feitlik ononderbroke in diens van die gemeenskap,” vertel hy.
Hy het as 19-jarige gesondheidsinspekteur by Wellington Munisipaliteit begin werk.
Later was hy betrokke by die bestuurskomitee en oorgangsraad, asook vyf jaar lank burgemeester van die dorp.
Verder was hy drie jaar burgemeester van die distriksraad, en betrokke by die Afbakeningsraad van die Wes-Kaapse Streekdiensteraad.
Met die vorming van die Drakenstein Munisipaliteit was hy eers onderburgemeester en die laaste paar jaar uitvoerende burgemeester.
“Jy kan maar sê ek het van kortbroek tot (amps)ketting gevorder. Nou voel ek dat ek my ‘diensplig’ voltooi het,” sê hy met ’n vonkel in die oog.
Dit was nie altyd maklike jare nie. Bailey het vroeër jare die meeste van die tyd ook ’n professionele loopbaan gevolg, wat gemaak het dat hy dubbeld so hard moes werk.
“Dit was my keuse. Ek het gevoel ek beskik oor die kwalifikasies en kwaliteite om die gemeenskap te kon help.
“Nou is ek 55 jaar oud en ek weet wat ek vorentoe wil doen. Ek het ’n doelbewuste besluit geneem om uit te tree.”
Bailey sê hy wil ’n skoon breuk maak en wil glad nie verder betrokke wees by plaaslike politiek nie.
“Dit is ’n lank gekoesterde ideaal van my om in die privaatsektor betrokke te raak.”
Hy was in die verlede deeltyds betrokke by ’n klompie maatskappye, soos die KWV en Groot Constantia.
“Die volgende vyf jaar kan ek voltyds betrokke raak. Ek het nog altyd ’n groot belangstelling gehad in die landbou, spesifiek die wynbedryf, en ek oorweeg dit om nou voltyds in laasgenoemde betrokke te raak.”
Hy stel ook belang in eiendomsontwikkeling en die finansiële sektor en sê hy oorweeg verskeie aanbiedinge uit die private sektor.
Sosiale dienslewering sal egter altyd ’n passie bly, soos sy belangstelling in die welsynsprojek Biblionef. Hy is ook op die raad van Boland Kollege en Hugenote Kollege.
Hy sal baie aspekte van plaaslike regering mis, maar nie die lang, uitputtende ure nie, sê Bailey.
Een van die uitdagings was die nuwe uitvoerende burgemeesterstelsel, wat besondere eise gestel het.
“Wat niemand in berekening gebring het nie, was dat die burgemeester nou ’n normale werksdag gehad het, maar nog steeds met al die seremoniële verpligtinge ook gesit het - nogal ’n aansienlike taak in Drakenstein, die grootste B-munisipaliteit buite Kaapstad.
“Die geweldige transformasie het ’n mens ook genoodsaak om jou polities te verbind, en dit het ’n mens ’n ander siening oor sake gegee.”
Sy dag het normaalweg vroegoggend begin met afsprake op Wellington en dikwels het hy eers 22:00 weer by die huis uitgekom.
Dit was ook nie einde van sy werksdag nie, want normaalweg was hy tot in die vroeë oggendure besig met voorbereiding vir die volgende dag.
“My grootste dank gaan aan my vrou, Carol, en ons kinders vir die wonderlike ondersteuning wat ek altyd gekry het.
“My werk het geweldige eise aan ons huishouding gestel,” vertel hy, en voeg by dat Carol hom bygestaan het ten spyte van haar gesondheid wat ’n paar jaar gelede ’n ernstige knou gekry het.
“Dit is die span rondom jou, familie en personeel, wat dit maklik maak om jou taak te verrig.”
* Drakenstein mayor Herman Bailey retires at the end of the month.
More
News
|