Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Kopseer oor koopkrag

Kopseer oor koopkrag
 
2006-02-16


“DIE verwydering van koopkragverkoopspunte in ons omgewing wat dit die nodigste het, is ’n groot bekommernis en teleurstelling in die gemeenskap.”

Dis wat pastoor Chris Thöle van die Kerk van die Nasarene gemeente op Wellington sê, oor die afname van verkooppunte in Vanwyksvlei-gebied, Wellington.

Bejaardes en gestremdes sukkel om by die kooppunte uit te kom, en kan net klein hoeveelhede op ’n keer koop.

Besighede in hierdie gebiede wat as agente opgetree het, maar nou hul koopkragdienste opgesê het, is die Weltevrede Supermark, Vanwyksvlei Kafee, Mannie’s Supermark en Shah’s Corner Café.
“Die koopkragfasiliteite by hierdie punte het meer as een keer gefaal en is verwyder of is opgesê deur die winkel.

“Die nie-beskikbaarheid van koopkrag het die publiek ontstel en gefrustreer. Boonop het dit kommunikasieprobleme tussen die werkers van die besighede en verbruikers geskep,” sê Thöle.

Winkeleienaars voel dat hul naam nou daaronder ly, want mense dink dat húlle verantwoordelik is vir die voorsiening van krag.

Deur die bank sê hulle egter dat hulle slegs as agente optree om ’n diens aan die gemeenskap te lewer namens die Munisipaliteit.

Thöle voel sterk oor die feit dat mense uit dié arm gemeenskappe nou ekstra geld moet uitgee aan taxigeld om koopkrag te gaan aankoop by verkooppunte wat verder geleë is.

By Bloekomlaan swembad het die Munisipaliteit ’n OTM waar krag gekoop kon word, geïnstalleer.

Die diens is egter beëindig omdat die masjien gevandaliseer is om kontant in die hande te kry, volgens Thöle.

’n Paarlse voorsiener, Ahmed Ebrahim by Broadway Supermark het nog nie probleme gehad met verkope nie.

“Dit is egter nie baie winsgewend nie, want die oorhoofse onkostes van versekering, dienspuntwerknemer en dies meer word nie naastenby gedek deur die bedrag betaal as vergoeding deur die Munisipaliteit nie”.

Hy meen dat die agente die diens gestaak het weens die deposito (tot soveel as R25 000 afhangend van omset) wat onlangs ingestel is om die krag vooruit by die munisipaliteit aan te koop.

Faeez Essop van Essop’s Supermark in Klein Drakensteinweg, asook Majiedt Gaffoor by Food O’ Rama in Nederburg, meen ook dat die meeste punte gesluit het weens die deposito wat ingestel is.

Private operateurs soos Chris Philander in Groenheuwel koop ’n hoeveelheid krag van Actaris aan en verkoop dit dan aan die publiek.

“Die 1,5% kommissie wat ek verdien op elke transaksie is maar min.”
Hy kry wel deur Actaris ook toegang tot die verkoop van selfoontyd en ander dienste.

Aminah Singh van Shah’s Corner Café in Colibristraat sê sy het die diens opgeskort omdat die wins te min was.

“Neem in ag dat ek persoonlik agter die verkoopspunt diens gedoen het vir tot 13 werksure per dag vir ses dae per week, Sondae nie eens bygetel nie, dan raak die betaling van R1250 daarvoor absurd.
“Ons het gevra vir 5% kommissie maar dis geweier, want Eskom bepaal die vergoeding.”

Op ’n weeklikse basis is tot R60 000 inbetaal, waarvoor hulle die persoonlike risiko moes dra, het sy bygevoeg.

“Boonop het hulle toe ’n deposito van R12 900 geëis voor 30 November om die Raad se risiko te verminder. Anders moet ons krag direk van die munisipale verskaffer, Actaris, koop.”

Nog ’n winkelier, Alan Martin by Weltevrede Spar, sê dat hy slegs die koopkragdiens sal heroorweeg indien die munisipaliteit self die risiko loop om geld af te haal, ’n kassier beskikbaar stel en die administrasie daarvan behartig.

“Ons het immers maandeliks tot R300 000 inbetaal en dit vir ’n vasgestelde bedrag van R2500. Die kool is nie die sous werd nie.”
Volgens ’n munisipale woordvoerder is die Munisipaliteit sedert verlede jaar deur sy ouditeure verplig om ’n sekuriteitsdeposito van winkeliers te vereis, ten einde boekhouding en die risikobeheer weens nie-betaling te verbeter.

* Wellington residents have been hard hit by the closure of sale points for prepaid electricity.



More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za