Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Tronk kan bevrydend wees

Tronk kan bevrydend wees
 
2006-02-23


"EK het bloot net kerk toe gekom om werk te ontduik, maar ek het nie besef ek gaan my Skepper ontdek nie.”

So het ‘n bekeerde middeljarige oud-gevangene onlangs by ‘n geestelike byeenkoms by Drakenstein Gevangenis getuig oor hoekom hy by ‘n godsdiensprogram aangesluit het, terwyl hy in die tronk was.

Deon de Koker, wat deel is van dié korrektiewe fasiliteit se ontwikkeling- en sorgafdeling, vertel dat hy oor die jare die “enorme uitwerking” op gevangenes by Drakenstein sien van die tronkbesoeke deur vrywilligers van meer as 20 kerkdenominasies.

“Ja, daar is sommiges wat weer terugkeer op hul ou weë, maar die grootste deel van die manne wat tot bekering kom, bly verbind tot hul geloof.”

Een so ‘n groep is die vrywilligerskorps van die Andrew Murray Sendingsentrum op Wellington, wat Drakenstein weekliks besoek om agter die tronkdeure gestruktureerde Bybelstudieklasse volgens ‘n uitgewerkte kurrikulum aan te bied.

Volgens die Amerikaanse prediker David Bliss, stigter van die sentrum, het hulle die afgelope sewe jaar hul fokus van die opleiding van sendelinge wat buite die grense van Suid-Afrika werk, verskuif om veral op die evangelisasie van gevangenes te fokus.

“Voorheen het ons jongmense wat kerk toe gegaan het, gewerf as sendelinge, maar die mense wat ons nou glo die grootste impak op die gemeenskap kan maak, gaan nie kerk toe nie, want hulle is in gevangenisse. Ons vertrou op die Here vir ‘n heel nuwe generasie van sendelinge uit hierdie bron.”

Sedert hul eerste vrywilligers sewe jaar gelede begin het om gereelde Bybelstudieklasse by Hawequa Jeugsentrum aan te bied, het die werk van die Andrew Murray Sentrum reeds uitgebrei na elf korrektiewe fasiliteite in die Boland. Dit sluit in Drakenstein, Allandale, Dwarsrivier (Wolseley), Malmesbury, Helderstroom (Villiersdorp) en Paardeberg.

“Die interaktiewe groepe het elk tot vyftien lede in, en op ‘n vraag-en-antwoord basis eerder as klasgee werk ons deur verskillende onderwerpe,” gesels Mike Zugg, ‘n afgetrede seeman wat ‘n staatmaker in die gevangenisbediening is.

Een van hul vrywilligers die afgelope jare was Samuel Eimin, wat self eens ‘n inwoner van Paardeberg Gevangenis was. “Voordat ek tronk toe is, het ek niks van die Here of sy Woord geweet nie,” vertel Samuel, wat vandag ‘n gesinsman is.

Hy het danksy die invloed van die gestruktureerde bybelstudieklasse van die Sentrum tot bekering gekom.

Drie maande nadat hy vrygelaat is, het hy na sy voormalige tuiste teruggekeer om vir byna drie jaar self kursusse soos
“Volg Jesus” aan te bied onder die Sentrum se vaandel.

“Ons droom is om al 200 gevangenisse in Suid-Afrika te bereik, en daarvoor begin ons nou kyk om medewerkers in ander streke te kry,” vertel David.

Om die diens te kan uitbrei, is daar altyd meer vrywilligers nodig wat minstens een keer ‘n week twee ure lank ‘n gestruktureerde Bybelstudie uit die selfstudie-handleiding kan aanbied.

Opleiding word verskaf, vertel Sentrumdirekteur pastoor Christopher Lawrence, wat ook ‘n Bybelskool wat fokus op bediening, prediking en uitreike, onder die vaandel van die Sentrum elke Donderdagaand, op Wellington aanbied.

“Ons het selfs ook net motorbestuurders nodig wat bereid is om ons fasiliteerders na die verskillende gevangenisse te neem,” stel hy die behoefte.

Talle vrywilligers reis vanuit die noordelike voorstede om op hul pos te wees vir die weeklikse besoeke, terwyl ander ook in die huis in Markstraat bly wat reeds die afgelope 20 jaar die Sentrum se basis is.

Die Sentrum word bestuur danksy die ondersteuning en hulp van talle Christene en geaffilieerde organisasies in die VSA en Suid-Afrika, maar op die beste van dae gaan sake maar broekskeur om by al die behoeftes en planne uit te kom.

Die stygende petrolprys is veral ‘n kopseer vir ‘n organisasie wat nie kan verwag dat die mense wat hulle wil bereik - die gevangenes - self na die Sentrum reis nie!

Daarby kort die imposante gebou, wat deur dr Murray opgerig is as tuiste vir die kinders van sendelinge in Afrika en later die eerste tuiste van die Andrew Murray Kinderhuis was, self dringend aandag.

Verfwerk en ‘n nuwe ablusiestelsel is prioriteite, veral aangesien die Sentrum weer vanaf Junie voltydse sendingopleiding vir jongmense beplan wat deur die sendingpaar Pieter en Rykie Greyvenstein aangebied sal word.

Dan kan daar weer verwag word dat die gebou, wat tot 42 mense kan huisves, weer sal gons van aktiwiteit.

David het pas van ‘n sesmaande besoek aan die VSA teruggekeer waar sy Bostonse gemeente, wat sendingwerk in Suid-Afrika reeds sedert 1834 ondersteun, beloof het om met die opknappingswerk te help.

“Hulle sal rand vir rand die bydraes van Suid-Afrikaners tot hierdie werk ondersteun,” is die Amerikaanse belofte, en dus vertrou die Sentrum nou op die ruimhartigheid van plaaslike persone om dié werk gesamentlik te help moontlik maak.

Mense wat belang stel om as vrywilligers in gevangenisse te werk, as bestuurders op te tree of kan help met finansiering van die instandhoudingswerk, kan Christopher kontak by 873-4380.



More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za