Bekende sterf by gholf
2006-02-23
'n BEKENDE inwoner van Pniel, Gerald Lackay (54), het Sondag ’n hartaanval op die Wellington gholfbaan gekry.
Volgens die klub het hy op die sesde putjie begin siek voel en op die sewende inmekaar gesak.
Daar is met hom hospitaal toe gejaag, maar hulle kon nie sy lewe red nie.
Lackay, wat getroud was met Joaline, die hoof van Ligstraal Skool in die Paarl, was bekend vir sy betrokkenheid by kinders met gestremdhede.
Hy was van 1978 tot 1996 hoof van die Dorothea Spesiale Skool vir Leerders met Gestremdhede, en ook betrokke met die oprigting van Ligstraal.
Lackay was president van die SA Sportvereniging vir Intellektueel Gestremdes (1996-2006) en president van die Wes-Kaapse Sportvereniging vir die Intellektueel Gestremdes (2002-2006).
Hy was ’n stigterslid van Gestremde Sport SA in 2001 en word die eerste vise-president in 2001.
Die begrafnis is Saterdag om 10:30 by die huis te Middelstraat, Pniel, en om 11:00 in die Pniel Congregational Kerk. Hy laat sy vrou en ’n dogter agter.
Die Ligstraal Skool en Wellington gholfklub, waar hy lid van die veteranespan was, het hulle medelye met die familie betuig.
More
News
|