Skietlisensie nie kinderspeletjies
2006-02-23
Malané Bosman
VUURWAPENEIENAARS het verlede jaar getalm met die hernuwing van hul lisensies, so asof hulle meen as jy geduldig wag vir die springbok, sal hy wel in die visier kom.
Die geduld was toe in die kol. Die datum vir hernuwing vir dié met verjaardae die eerste drie maande van die jaar wat hul lisensies voor einde Desember moes hernu, is op die nippertjie verleng tot einde Maart vanjaar.
Polisiemanne betrokke by hernuwings en diegene met vuurwapenopleidingsinstansies, het voor Kersfees bont gestaan om die laatslapers te akkommodeeer.
Dit is ook nie net vir skoot aftrek en daar het jy jou lisensie nie.
Dit jaag jou honderde rande uit die sak, en dit kos ’n hele dag se vorms invul (met afskrifte van jou ID en wapenlisensie en ook twee kleur-paspoortfoto’s byderhand), skriftelike toetsing en dan aanlê op die skietbaan.
Ek was ook een van dié wat so byna die bok einde verlede jaar laat wegkom het - natuurlik voor die nuus van die verlenging.
Kort voor Kersfees het ek inderhaas ’n opleidingsinstansie gesoek, en op Alan Hardy van Wellington afgekom.
Hierdie voormalige polisieman werk vir G+J Vuurwapenbevoegdheid op Wellington, met die skietbaan op Riebeek Kasteel.
Eers is dit aandoen by die naaste polisiestasie vir ’n dik pak vorms wat ingevul moet word, met swart pen.
By Hardy kry jy ’n boekie met inligting oor die Wet op Vuurwapenbeheer - die besit, bewaring en toegelate gebruik asook die komponente van vuurwapens en die veilige hantering daarvan.
Moenie dink daar is ’n kortpad nie. Saam met die instrukteur word nog ’n dik pak vorms ingevul, en dan is dit die oopboektoets (met koffie en koeldrank en koekies vir die twee uur se stryd om ’n tafel saam met mense wat seker 40 jaar laas eksamen moes skryf).
As jy nie 80% kry nie, dan beteken dit anderdag weer oorskryf (darem gedek deur die R250).
Met die bevoegdheidstoets onder die knie, is ons toe met my rewolwer en tien rondes na die skietbaan.
Eers word die rewolwer en die veiligheidsaspekte behandel, en toe is dit oorklappe aan, mik en skiet op ’n teiken.
Ek was heel trots. Moenie dink jy gaan my aanval op vyf tree nie, ook nie op sewe tree nie. As die teiken die hart was, was jy tien keer dood.
Insiggewend is die inligting van wanneer jy mag skiet, en wanneer jou skote jou in die hof sal laat beland. Jy kan jouself verdedig indien jou lewe in gevaar is, mits die verdediging nie meer gewelddadig as die aanval is nie.
“Dis nie ‘cowboys en crooks’ nie. Skiet tot die gevaar verby is, gee pad, en gee die saak aan by die polisie,” maan Hardy.
Ook op die skietbaan moet jy 80% behaal, of dis terugkom vir nog ’n sarsie (ingesluit in die R250 per vuurwapen).
Terug in die Paarl is dit weer na die polisie se vuurwapenbeampte toe, met R70 vir elke vuurwapen.
Indien die vorms klop, sal kapt Gilbert Jones of insp Mervin Harris jou tuis besoek om die (vasgeboude) kluis te inspekteer.
Hulle gesels ook met ’n familielid, vriend of buurman om navraag oor jou karakter te doen, voordat die vorms uiteindelik na Pretoria gaan vir bevestiging dat jou vingerafdrukke nie op ’n kriminele rekord dui nie.
Dit is waar my vorms nou lê. Dit is nie te sê ek gaan goedgekeur word nie so nou wag ek weer, geduldig, op die trofee.
En indien dit toegestaan word, word die hele ekspedisie oor vyf jaar herhaal (of tien jaar indien my vuurwapen net vir jag sou wees).
Vuurwapeneienaars met verjaarsdae in April, Mei en Junie, asook besighede, het tot 31 Maart volgende jaar kans daarvoor.
Eienaars wat in Julie, Augustus en September verjaar, moet voor Maart 2008 hernu en diegene wat die laaste drie maande van die jaar verjaar, het tot Maart 2009 aanlêtyd.
Daar word elke jaar 3000 vuurwapens as gesteel aangemeld en 10 000 mense in Suid-Afrika met ’n vuurwapen doodgemaak.
Hardy sê: “Onthou, ’n vuurwapen is ’n kleilat nie.”
Skakel kapt Jones (807-4000) of Hardy (082-372-9063) met navrae.
More
News
|