Dezi kruip weg
2006-03-02
Lise Beyers
NADAT die Naudés drie katte in die pense van luislang verloor het, het hulle gehoop dat hul vierde kat, Dezi, darem ’n normale lewe sou kon geniet.
René Naudé en haar gesin het vir tien jaar in Singapoer gewoon, waar haar man as loods gewerk het.
Hulle kinders Cristoph (14) en Marisa (10) wou baie graag ’n troeteldier hê, en alhoewel René nog nooit van katte gehou het nie, en boonop allergies vir hulle is, het sy daartoe ingestem.
So het hulle eers ’n gemmerkat met die naam Garfield gehad, maar ’n paar maande later, verdwyn Garfield spoorloos.
“In Singapoer is alles verskriklik georden, en as dooie of verlore diere gevind word, word dit deur die polisie opgeteken,” het René gesê.
“My seun was hartgebroke oor Garfield en ons het orals gesoek, maar daar was geen teken van hom nie.”
Nog twee katte het verdwyn en sy het besluit dat sy die raaisel moet oplos.
Sy het vir die sekuriteitswagte van die kompleks waarin hulle gewoon het gevra of hulle nie dalk weet wat met die katte gebeur het nie, en uiteindelik het die waarheid uitgekom.
Dit blyk toe dat daar die afgelope paar jaar ’n luislang van vier meter snags deur die tuine van die kompleks dwaal.
Dit is inderdaad waarheen die drie katte verdwyn het, glo sy. Dezi, die oorlewende kat, is van daardie oomblik af soos goud bewaar.
Sy is nooit toegelaat om weer in Singapoer uit die huis te gaan nie.
Verlede jaar het die Naudés na die Paarl verhuis en by Boschenmeer ingetrek.
Uiteindelik het die kat heerlike ruimte gehad waarin sy kon ronddwaal en die omgewing verken.
Maar die vrede het nie lank gehou nie, want ’n ander kat het vir Dezi geterroriseer en haar verjaag.
Dezi verdwyn toe soos ’n groot speld en die Naudé huishouding het gewonder of sy ook die prooi was van ’n ongedierte.
Drie weke later het ’n buurvrou vertel dat sy vir Dezi in die pad gesien het, maar ’n hele ent van hulle huis af.
René is dadelik daarheen, maar Dezi het in ’n stormwaterpyp weggekruip en geweier om uit te kom.
Daar het sy nou vir haar tuisgemaak en is oënskynlik te bang om haar skuilplek te verlaat.
“Ons weet nie meer wat om te doen nie. Sy lewe al byna vier maande so.
“Ek het nooit van katte gehou nie, maar Dezi het ’n baie spesiale plekkie in my hart.
“Ek gee elke aand vir haar kos, en sy gesels met my, maar van uitkom wil sy niks weet nie.”
René het nou al die hele Boschenmeer opgekommandeer om op die uitkyk te wees vir Dezi, maar wanneer iemand vir haar gewaar, verdwyn sy net so vinnig.
Daar is selfs die hulp van ’n dieresielkundige vanuit die Kaap ingeroep, sonder enige sukses.
René sê dat sy nie gaan moed opgee dat Dezi uiteindelik na haar toe sal terugkeer nie, en sy hoop dat dit binnekort sal wees.
* A Paarl family lives in hope that their cat will return from the drain which has become its home.
More
News
|