Meisie (7) sterf langs pad
2006-03-09
DERTIEN, veertien, vyftien, sestien..! Dit is hoe meedoënloos die padslagoffersyfers die een na die ander by Nieuwedrift Primêr afgetel word sedert die skool se ontstaan.
Die afgelope vyf jaar het daar elke jaar ’n kind van die skool in ’n ongeluk gesterf.
Maandagmiddag ná skool is Namozane Pieters, sewejarige leerling in graad een by Nieuwedrift Primêr, op die R45 hoofpad na Malmesbury op slag doodgery.
Sy het in ’n groepie van vyf ander skoolmaats huis toe gestap na die Pick a Leaf plaas, ’n kwekery waar haar grootmaak-ouma, Katriena Pieters, werk.
Volgens adjunkhoof Clarence Adams, het daar reeds 16 kinders in die 23-jarige bestaan van die skool op hierdie pad gesterf. Drie ander het gesterf weens verdrinkings.
Skoolhoof Chris Bam sê dat hoewel daar ’n spoedbeperking van 80 km/h op die hoofpad van toepassing is, én ’n verkeersbeampte wat leerlinge soggens en smiddae veilig oor die pad vergesel, die skool nie beheer het oor kinders as hulle die skoolterrein verlaat nie.
“Hier is nie spoedkameras of spoedlokvalle met doeltreffende wetstoepassing wat die spoedbeperkings afdwing nie.
“Die ideaal sou wees dat vervoer aan die kinders verskaf word om hulle te vrywaar van padgevare.
“Die meeste van die kinders wat so verongeluk, is die jonger leerlinge wat nie altyd pad- en ander gevare verstaan nie,” het hy bygevoeg.
Hy sê verder dat die kind se woonplek omtrent ’n kilometer van die skool af is en daarom het sy nie gekwalifiseer vir busvervoer nie, ongeag die feit dat leerlinge aan sulke padgevare blootgestel word.
Klasopvoeder Jessica Pilaar het gesê dat Namozane ’n sprankelende sonskynkind was.
“Sy het altyd gelag, was vriendelik en gretig om vrae te vra en te beantwoord.”
Namozane se swanger ma, Riora Pieters, en pa Bennie Williams is verloof om middel Mei te trou, maar was nog te geskok om te praat.
Die opvoeders en leerlinge is erg geskok oor die voorval en die ander leerlinge in die groepie waarin sy was tydens die ongeluk, ontvang berading van die skoolsielkundige.
Kringinspekteur Hendrina Rossouw was later die middag by Paarl Hospitaal om haar ondersteuning en medelye met die familie en ook skoolpersoneel te betuig.
Begrafnisreëlings is nog nie gefinaliseer nie, maar die familie beoog om haar oor die naweek te begrawe.
’n Klag van strafbare manslag word deur die polisie teen PJ Theart van Wellington ondersoek.
* A seven-year-old child died after being run down near her school.
More
News
|