Onderwyser verongeluk
2005-04-07
DIE bekende Paarlse atleet en onderwyser by Klein Nederburg Sekondêr, Sean Simpson, het Vrydag in ’n motorongeluk gesterf.
Simpson (37) was op pad na ’n fisioterapie-afspraak op Stellenbosch toe hy in ’n ongeluk op die Simondium/Stellenbosch-kruising in Klapmuts betrokke was.
Volgens familielede het Sean tevergeefs probeer wegswenk toe ’n aankomende vleisafleweringsvoertuig twee stilstaande voertuie verbygesteek het.
Sean, ’n onderwyser in Natuur- en Skeikunde, Biologie en Wiskunde, het vanjaar by Hoërskool Klein Nederburg aangesluit nadat hy die afgelope 14 jaar aan die Hoërskool Schoonspruit in Malmesbury verbonde was.
As student aan die Universiteit Stellenbosch het hy Maties atletiekklub verteenwoordig in baan- en velditems en landloop.
Sean het Westelike Provinsie én senior Boland atletiekkleure verwerf. ’n Hoogtepunt was toe hy in 1987 een van die vinnigste junior atlete in die land was oor 800m, met ’n tyd van 1 min 49 sekondes.
In 2002 het hy die nasionale 800m titel by die meesterskampioenskappe in Germiston verower in die ouderdomsgroep 30 tot 35.
Sedert verlede jaar het Sean op aandrang van Springbok atleet Marné van der Burgh as afrigter by Hoërskool La Rochelle betrokke geraak.
Atlete en ouers het daar met skok van sy dood verneem.
“Sy sportkennis en wonderlike menseverhoudinge het van Sean ’n gewilde en geliefde persoon gemaak,” word hy onthou. Simpson het reeds begin voorberei vir een van sy ideale, die wêreldmeesterkampioenskap in Spanje later vanjaar.
Hy word oorleef deur sy vrou Natalie, vyf-maande-oue seun Ciáran, sy moeder, twee susters en vier broers.
Die tuisdiens is Saterdag om 10:00 te Raschkestraat 16, Charleston Hill, met die gedenkdiens om 11:00 by die Zions Verenigde Gereformeerde Kerk Paarl.
* A well-known Paarl teacher has died in a crash.
More
News
|