Trosse meer as tiende
2006-03-16
Malané Bosman
DIS bekend dat gemeentelede van die Strooidakkerk mildelik skenk, maar toe die hektaar jong wingerd by dié kerk meer as twee ton druiwe kon lewer, moes liggelowiges hul koppe laat sak.
Drie jaar gelede is netjiese rye cabernet sauvignon langs die Hoofstraat pastorie geplant en ’n jaar later is die welige ranke opgelei.
En verlede week was daar groot opgewondenheid toe die eerste drag gepars is.
Die wingerd het nie sonder baie klagte en koukus tot stand gekom nie.
Die Alfons wat meer as 30 jaar gelede deur Ronnie Bourbon-Leftley aangeplant is, was 15 jaar gelede al uitgedien en ’n besluit moes dringend geneem word oor die lappie grond langs die pastorie.
Die volgende geslag Bourbon-Leftley, David van Vredenburgplaas, het die kerkraad aangepor om die tafeldruiwe met wyndruiwe te vervang.
Hy is vurig ondersteun deur ’n paar leiers in die gemeente.
Daar was destyds baie kopstampery oor die ontwikkeling van die grond vir behuising (wat baie geld in kerkkoffers sou besorg) teenoor die behoud van tradisie en die vrugte van ’n wingerd (met minder in die bank).
David het maar gewag dat die komitees klaar koukus.
En toe die besluit uiteindelik geneem is, was hy en wynmaker Derek Clift van De Hoop-plaas daar om hul belofte gestand te doen.
Hulle sou toesien dat daar van die gesogte kultivar aangeplant word, die stokke versorg word, en die vrug verwerk word tot vog wat fondse vir die kerk sou inbring.
Verlede week was die twee boere daar toe gemeenteleraar Danie Lückhoff die eerste tros gepluk het.
Derek het die oes geskat op 1,5 ton en was verbaas-trots toe die druiwe die skaal op meer as twee ton trek.
Die druiwe is afgepars en gis nou in tenks in ’n kelder op Schoongezight plaas aan die Hoofstraat.
“Die druiwe proe soos die beloofde Kanaän,” het ds Lückhoff duidelik aangedaan gesê.
“Dit was Vrydag ’n historiese oomblik. Ons het die eerste trosse gepluk van ’n wingerd wat dalk nog vir ons sal oorleef. Dit is nou daar vir die nageslag.”
* The first grapes have been harvested from the vineyard at Paarl’s Strooidak Church.
More
News
|