Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Sy skrik vir geen bal nie

Sy skrik vir geen bal nie
 
2006-03-23


SY’S maar nog net 14 jaar oud, maar Bea Terblanche weet dat sy gebore is om krieket te speel.

Dié graad 8 leerder van Hoërskool Labori speel tans vir die o.18 Boland-Sentraal meisiespan én die Boland o.19 vrouespan.

Sy is die jongste speler in beide spanne, maar staan nie ’n duim terug vir enigiemand nie.

Bea se vasberadenheid om op die krieketveld te presteer en die genot wat sy uit die spel put, is duidelik as jy haar in die krieketnette dophou.

Sy was al van jongs af vasberade om die spel te speel waarvoor sy so lief is.

Haar eerste skoolwedstryd was vir die o.10-span van Laerskool De Hoop in Somerset-Wes.

“Ek het net een middag by die oefening opgedaag. ’n Paar oefeninge later het die afrigter gesê hy wil my kies om in ons interskole-wedstryd te speel,” vertel sy.

Hoe het die seuns gevoel oor dié meisie wat haar man op die krieketveld wou staan?

“My spanmaats was okay met die idee, maar die boulers van Beaumont het gedink hulle moet sagter boul vir my omdat ek ’n meisie is.

“Van die ouens het my selfs uitgevang, maar dan gemaak of hulle die bal laat val,” vertel Bea, wat ewe gemaklik is met ’n kolf as wanneer sy met die bal na die penne aanlê.

Die skoolhoof het egter ’n stokkie voor haar krieket-spelery gesteek in die vrees dat sy dalk sal seerkry.

In graad sewe het ’n nuwe afrigter die krieket onder hande geneem.
Bea het weer ’n kans gevat, saam met die seuns begin oefen en weer is sy gekies om in die interskole-wedstryd te speel.

Bea se kans om vir Labori te speel, het opgeduik tydens ’n pretdag wat vir die nuwe koshuisgangers gereël is.

Sy het dáár die betrokke afrigters beïndruk. Toe die afrigter van die o.14-span noem dat hy nog spelers soek, het Bea dadelik gevra of sy saam kan oefen.

Die antwoord was ja, en toe sy haar oë uitvee, speel sy vir Labori se o.14-span teen Paul Roos waar sy twee paaltjies neem en 14 lopies - die hoogste telling in die span - aanteken.

Sedertdien het sy nog drie keer haar skool op die krieketveld verteenwoordig, insluitend die interskole-wedstryd teen Bosmansdam.

“Ek het gedink ek sal nie op hoërskool kan krieket speel nie omdat die seuns harder boul, maar toe begin ek hier speel en toe is dit nie so erg nie.”

Haar opregte passie vir en toewyding tot krieket het nie ongesiens by die afrigters van Labori verbygegaan nie, en Bea is na die Boland-meisieskrieketproewe gestuur.

Sy het weer hier uitgeblink, is dadelik as een van die top kandidate geoormerk en is in die o.18 Boland-Sentraal sowel as die Boland o.19 vroue-krieketspanne opgeneem.

Die Boland o.19-span het al teen Maties, Brackenfell en Somerset-Wes te staan gekom, en hoewel dié jong speler nog nie ’n vyftigtal agter haar naam kon skryf nie, is dit net ’n kwessie van tyd voor sy dié prestasie behaal.

“Ek wou nog altyd krieket speel, dis een van my drome wat sover waar geword het.

“Dis lekker, ek slaan my frustrasies uit op die bal en daar is geen lekkerder gevoel as om ’n paaltjie vir jou span te vat nie,” sê sy.

“My ouers hou nie daarvan dat ek nou Sondae ook krieket speel nie, maar ek sal graag my krieket so ver wil vat as wat ek kan.”

’n Ander droom van haar is om die Protea-spanlede te ontmoet, veral vir Mark Boucher en Jacques Kallis.

“Al sukkel Boucher die dag met die kolf, hou hy aan - ek hou van die passion waarmee hy speel, en Jacques Kallis - hy wéét hoe om ’n bal te slaan. As hy ’n vier of ’n ses slaan dan juig ek omtrent,” vertel sy uitgelate.

Benewens krieket is Bea ook ’n goeie atleet en het sy vanjaar die spiesgooi-rekord vir o.14 meisies tydens die graad agt byeenkoms, die interhuis- en interskole-byeenkomste verbeter.

Sy hoop ook om in die winter haar merk op die hokkieveld en landloopbaan te maak.

* A female student at Labori High plays cricket for the school, and has also made the u.19 Boland women’s team.



More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za