Toeroperateur reis hof toe
2005-03-04
'n TOEROPERATEUR van Paarl-Oos het Dinsdag in die landdroshof verskyn op aanklagte van bedrog van derduisende rande.
Die hofverskyning is 'n nadraai van 'n treintoer na Gauteng verlede jaar wat 120 toerlede op moedverloor se vlakte gelaat het.
David Cupido van New D'Cup Toere, word daarvan aangekla dat hy moontlik tot R100 000 in sy sak gesteek het sonder om die verblyf en retoerkaartjies te betaal.
Die reisigers moes op eie stoom - en eie onkoste - weer in die Paarl kom.
Die toer was na Carnival City by Johannesburg, ook Caesar's Casino, Gold Reef City, Sun City en Pretoria.
Die reisgeld vir die week-lange toer, is vooraf deur die toerlede uit Kaapstad, Worcester en die Paarl betaal.
Ook op reis was koorlede van die Bethel Congregational Kerk in Paarl Oos.
Die reisigers is ná die eerste nag uit hul hotel gesit toe die rekening nie betaal is nie. Van die toerleier was daar geen spoor nie.
Meer as R15 000 is deur die United Congregtational Church of Southern Africa aan die toergroep geleen sodat die verblyf, etes en terugrit betaal kon word.
Dié geld sou die reisigers later moes terugbetaal.
Met hul tuiskoms is klagtes van bedrog en diefstal by die polisie aanhangig gemaak.
Speur-insp Hampstead Hendricks lei die ondersoek teen Cupido, van Ghwarrielaan 24, New Orleans.
Cupido het voor die toer ook belowe dat die kerkkoor 'n R10 000 skenking van die reisagent sou ontvang. Daarvan was daar geen teken nie.
Die toerleier het na bewering al voorheen 'n reisgeselskap in die steek gelaat.
Cupido is Maandag van bedrog aangekla en versoek om hom Dinsdag by die Paarl Landdroshof aan te meld.
Cupido is na die hofselle gelei waar hy meer as vyf uur moes wag moes wag tot sy verskyning.
Borg is nie teengestaan nie en Cupido ois gewaarsku om in April in die hoef te verskyn.
* A Paarl East tour operator has appeared in court on charges of fraud after travellers were left high and dry.
More
News
|