Vrou, gesin herenig deur Paarl Post
2006-04-26
David Joshua
DIE verlore, verstandelik gestremde vrou, Janine Visagie, waaroor verlede week in die Paarl Post berig is, is met haar familie herenig.
Haar ma het haar Saterdag by Paarl Hospitaal kom haal.
Janine is op 5 April deur die polisie op Wellingtonstasie gevind en is na Paarl Hospitaal geneem. Sy kon geen besonderhede verskaf oor waar sy vandaan gekom het of waarheen sy op pad was nie.
Volgens haar ma, Regina Visagie, is die 26-jarige Janine ‘n inwoner van die Beaconvale Frail Care Centre in Mitchellsplein. Die Visagie-gesin bly in Retreat, Kaapstad.
“Ons almal was rasend van bekommernis vandat sy verdwyn het en het dit by die polisie aangemeld.”
“Ek het gehuil van verligting toe Dawn Erentzen, ‘n oudonderwyser van Janine, my skakel om te sê dat sy by Paarl Hospitaal is.
“Ek wou weet of sy enigiets oorgekom het en het dadelik reëlings getref om my kind te kom haal. Ons het egter nie vervoer nie en moes die trein haal.”
Regina vertel dat Janine wéét dat hulle per trein na haar toe kom om haar oor naweke huis toe te vat.
Sy het dit in haar kop gekry om die sekuriteit by die sentrum te ontglip, oor die muur te spring en trein te vat huis toe.
“Sy het seker net ingeklim, vas onder die indruk dat die trein haar huis toe sou vat en het gery tot waar dit stop.
“Dit was egter die verkeerde trein en sy het op Wellington geëindig - waar die trein stop - en was verplig om uit te klim. Toe is sy verdwaal en het boonop niemand geken nie.”
“Ek sê baie dankie aan almal, die Wellington polisie, Paarl Hospitaal se personeel van saal D3, die maatskaplike werkster en veral die Paarl Post dat ek my kind weer gevind het.”
* Die familie van nog ‘n pasiënt oor wie onlangs berig is, Paulus Marzaweza, het nog nie opgedaag nie. Bel 872-1711x2256 met inligting.
* Paarl Post was instrumental in reuniting a family last week after publishing the picture of a patient.
More
News
|