Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Mister Bain kan trots wees

Mister Bain kan trots wees
 
2006-04-26

Malané Bosman

HET hy nog gelewe, sou Mister Bain trots gewees het op die bergpas wat hy 153 jaar gelede buite Wellington gebou het.

Die onlangse brand het wel sy bruin spoor deur klowe en oor die kruine gelaat, maar reisigers oor die kronkelpas kan hul oë nie glo oor hoe netjies en skoon die pad en die uitkykpunte is nie.

Die Vriende van Bainskloof het met baie sweet van indringerplante ontslae geraak.

Bobbejaanvaste vullisdromme is in omgewingsvriendelike, gemesselde houers geplaas.

Die muurtjie by Gawie se Water is pragtig herbou, en so ook ’n stilhouplek op een van die mooiste uitkykpunte op die berg.

Die Vriende van Bainskloof het by die Wynland Distriksraad aangeklop wat weer die nasionale paaie departement versoek het om fondse te bewillig om die geskiedkundige pas op te knap.
Ingenieurskonsultante uit Kaapstad is ingespan en ’n plan is opgetrek om ’n klipmuurtjie te bou en die stilhouplek te plavei. Daar was net een voorwaarde: plaaslike arbeid moes gebruik word.
Dis waar John Cupido, ’n 72-jarige meesterklipbouer van Wellington, se ervaring ingeroep is.

Twee maande lank het hy en helpers, waaronder ’n span vroue uit Mbekweni, klippe op ’n boer se plaas aan die hange van die pas uitgesoek, en dit een vir een gebruik om die muur te messel.

“Die muur het elke vyf meter ’n gat vir water om af te loop, en dis in dele van twee meter elk gebou, sodat wanneer iemand daarin vasry, die hele muur nie daarmee heen is nie,” verduidelik John trots sy handewerk.

In Januarie volgende jaar sal die vyf brûe van die pas ook met fondse van die Wynland Distriksraad herstel word, sê Sandra Steytler, woordvoerder van die Vriende van Bainskloof.

’n Algemene jaarvergadering word Vrydag 12 Mei om 18:30 deur die Vriende van Bainskloof in die Wellington Museum gehou. Lede en belangstellendes is welkom.

* Bain’s Kloof Pass has been upgraded with baboon proof garbage bins and a new vantage point overlooking the Wellington Valley.



More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za