Oud-Wellingtonner nou doktor
2006-05-11
‘n OUD-WELLINGTONNER, Stefan de Goede, het onlangs ‘n doktorsgraad in Polimeerwetenskap aan die Universiteit van Stellenbosch behaal. Dit maak hom een van ‘n handjievol wetenskaplikes in Suid- Afrika wat in dié rigting gekwalifiseer is.
Stefan het in 1990 gematrikuleer aan die Hugenote Hoërskool en behaal ‘n BSc-graad aan die Universiteit van Stellenbosch. In 1994 ontvang hy die Merck-prys in chemie as die beste chemiestudent in sy finale studiejaar. Hy behaal hierna beide die grade BSc (Hons) en MSc met lof (cum laude).
Sy PhD-studie handel oor die degradasie van propileen-1-penteen kopolimere, ‘n produk wat uniek is aan die Suid-Afrikaanse polimeerbedryf.
Hy het meeste van sy eksperimentele werk aan die Deutsches Kunststoff Institut uitgevoer onder sy studieleier, prof Harald Pasch.
Hy het onder andere ses maande in Darmstadt, Duitsland, deurgebring.
Gedurende sy studies het hy verskeie internasionale referate gelewer, onder andere by ‘n Makromolukulêre Chemiekonferensie in Bratislava, Slowakye. Hy werk tans in Johannesburg as ‘n senior produkontwikkelingschemikus vir ‘n groot petrochemiese firma.
Stefan se ouers, Nick en Mynie de Goede, is steeds in Wellington woonagtig.
Sy suster Elana studeer tans ook vir ‘n doktersgraad in Polimeerwetenskap aan die Universiteit van Stellenbosch.
More
News
|