Afrikaner in Rusland
2006-05-11
AFRIKAANS bly sy harttaal, maar die Oekraïne is waar hy hom nou deel van die mense voel.
So sê Willem van der Colff, wat reeds van 1994 af sendingwerk daar doen.
Willem, wat groot geword het in die Paarl, kuier op die oomblik in Suid-Afrika saam met sy gesin.
Hy het ook pas sy eerste CD, Nuwe Dag, bekend gestel. Die CD bestaan uit twaalf Afrikaanse snitte en mense kan dit by die NGK Drakenstein se kerkkantoor bekom (872-8242).
Willem tree Sondag 21 Mei by die oggenddiens in die Toringkerk op. Die gesin vertrek weer oor ’n maand na Vinnitsa, waar hulle woon. Willem se verbintenis met Rusland het in 1994 begin.
Pas nadat hy ’n honneursgraad in Landbou by Maties behaal het, is hy saam met die sendingorganisasie Operasie Mobilisasie na die Oekraïne.
Hy het ’n paar maande se opleiding in St Pietersburg gehad, waarna hy na Vinnitsa in die Oekraïne is om te help met kerkplanting.
Hier het hy sy vrou, Alla, ontmoet en hier woon hulle nog steeds. Hulle het twee seuntjies, Johan (6) en Vova (2).
Johan het die afgelope paar maande by Laerskool Gimnasium skoolgegaan en hy is baie ernstig om Afrikaans te leer.
“Ek praat met hulle Afrikaans,” vertel Willem.
Vova spog ook met sy eie Afrikaanse woordeskat, wat nog nie veel verder as ‘pappa’ en ‘bal’ kom nie.
Willem sê hulle probeer elke twee jaar Suid-Afrika toe kom. Hier tree hy op by gemeentes en ander belangstellende organisasies.
“Ek is gelukkig in die Oekraïne, en daar is ook heelwat ooreenkomste tussen Suid-Afrika en Rusland,” vertel hy, verwysend na burgeroorloë, onderdrukking van mense en armoede.
“Buiten armoede, het die oorgang van kommunisme na kapitalisme ook ontsettende skade veroorsaak.
“Die land begin nou eers herstel,” sê hy en vertel dat onder kommunisme die verskillende lande se produksiestelsels aan mekaar gekoppel was. Produksie begin nou weer normaal raak. Willem sê daar is baie min jongmense in die kerk.
“As gevolg van kommunisme is daar twee geslagte verlore vir die kerk. Ons probeer kerke help om hierdie probleem te oorkom.”
Hy vertel dat hulle veral kyk na alternatiewe aktiwiteite vir die jeug om hulle ’n ander opsie te gee as disko’s en kroeë.
Die staat en godsdiens is geskei, wat beteken dat kerke nie maklik in skole kan werk nie.
“Ons konsentreer op sport en kampe.”
Kerke het dikwels meer geld as die staat om hierop te bestee, wat hulle ’n voet in die deur gee.
Hulle konsentreer ook op kinderhuise, waar hulle dikwels inkom met Kersgeskenke en kampe.
“Dit is moeilik, die kinderhuise sukkel, maar ’n mens kan nie meer gee as wat jy het nie.
“Tronke is nog ’n plek waar ons sukkel om in te kom. Buitelanders word glad nie daar toegelaat nie.”
Maar hulle bereik sowat 1,5 miljoen mense deur die radio en het ook korrespondensiekursusse.
“Dis belangrik dat die kerk deel van die gemeenskap vorm. ’n Mens kan die effek sien, soos ’n afname in drankmisbruik.”
Willem nooi mense om hom te kontak, hy is nog vir ’n paar optredes beskikbaar voordat hulle vertrek.
“Bid vir ons, skryf of stuur geld,” vra hy. “Ons ontvang ook graag uitreikgroepe. Dit is altyd verrykend om ’n ander gemeenskap te besoek en hulle sonder enige vooroordele te leer ken.”
Skakel Willem tot die einde van Mei by 073-183-9035, of stuur ’n e-pos na willem@ua.om.org.
* A Paarlite who works as a missionary in Russia, is currently visiting Paarl with his Russian wife and two sons.
More
News
|