Moederskap is 'n voorreg
2006-05-11
OM ma te wees is altyd ’n be-sondere voorreg en nie iets wat ek as vanselfsprekend aanvaar nie. Só sê Drakenstein se nuwe uitvoerende burgemeester, Charmaine Manuel, oor Moedersdag en ma wees.
Sy vertel van twee vriendinne wat jare gesukkel het om kinders te hê en hoe dit haar onder die besef gebring het dat moederskap nie altyd ’n gegewe is nie.
“Dit is lekker om ma te wees,” glimlag sy. “My kinders is alles, sonder hulle is die lewe saai.”
Charmaine was onderwyseres van beroep. Sy het kuns (en ander vakke) vir senior primêr gegee, maar haar eintlike roeping was by die grondslagfase.
Sy was hoofsaaklik by Simondium Primêr, maar het ook ’n draai gemaak by Paulus Joubert Primêr, Paarlzicht en Amstelhof. Charmaine en haar man, Jeffrey het twee kinders, wat albei nog in die huis is.
Jeffrey Junior (24) en Carmen (19) studeer albei by UWK. Jeffrey is besig met nagraadse studies in Botanie en Carmen studeer Besigheidsadministrasie.
Jeffrey Snr is die Senior Bestuurder Finansies van die Universiteit van Limpopo, wat beteken dat Charmaine meeste van die tyd enkelouer moet speel.
Hoe voel dit om burgemeester én ma te wees?
Burgemeester wees is harde werk, met lang ure, en by die huis het dit veroorsaak dat rolle bietjie verander het, vertel sy.
“Die kinders is my geheue, hulle los selfs notas op die yskas vir my.
“Hulle maak ook kos. Ek kan regtig op hulle peil trek,” en dan met ’n laggie, “hulle het ook opinies oor alles - nie net my klere nie, maar ook wat ek gesê en gedoen het.”
Dit is duidelik dat Jeffrey en Carmen trots is op hul ma en alles wat sy reeds vermag het.
En Moedersdag?
“Ons beplan niks buitengewoons nie,” sê Jeffrey.
“My ma waardeer die klein dingetjies en ons waardeer alles wat sy elke dag vir ons doen,” stem die twee saam.
Die burgemeester het die laaste woord: “Die rol van ma is verskriklik belangrik. Ek dink net aan ons seuns en die waardes wat ons hulle moet leer - soos respek vir vroue.
“Ek dink altyd aan die gesegde, ‘The hand that rocks the cradle, rules the world...’.”
More
News
|