Gister fiks, vandag siek
2006-05-25
Malané Bosman
TOT vyf maande gelede was sy gemaklik op haar perd se rug, maar vandag het Hanneke Malan van Wellington dringend ’n beenmurgskenking nodig.
In Desember, terwyl sy haar oudste dogter Lené by ’n SA Gymkana-kompetisie in Pretoria bygestaan het, het sy siek geword en is leukemia gediagnoseer.
“Ek was van einde November saans moeg, maar ek het gedink dis die einde van die jaar se moegheid. Ons was so aan die gang met die perdry dat ek nie daaraan aandag gegee het nie.”
As gekwalifiseerde apteker het Hanneke (42) besef die bloukolle wat uitgeslaan het, die hoofpyne en die seer nek was nie normaal nie, maar ook daaraan het sy haar nie te veel gesteur nie.
Vir ’n abses in haar tandvleis is antibiotika voorgeskryf, en steeds het sy die tekens dat haar witbloedselle nie behoorlik funksioneer nie, geďgnoreer.
Die eerste nag in Pretoria was Hanneke só koorsig en het haar kliere só geswel dat sy verplig was om ’n dokter te sien.
“Toe het ek geweet, dis of bosluiskoors, of breinvliesontsteking, of leukemia.
Die dokter het bevestig, sy ly aan akute myeloid leukemia.
Sy moes onmiddellik teruggevlieg word, en is deur haar verdwaasde man Petro, reguit na die Constantiaberg Medi-Clinic geneem.
“Die prognose van hierdie soort leukemia is goed met chemo,” het Hanneke - met haar bekende positiewe uitkyk - aan hom verduidelik.
Sy is op 13 Desember opgeneem en moes tot 9 Januarie in afsondering in die hospitaal bly. Die leukemia was in haar beenmurgvloeistof.
Ná tien dae chemoterapie was haar weerstand nul. Sy het erg siek geraak, met verskriklike newe-effekte.
“Dit was sleg oor Kersfees, maar ek was dankbaar dis skoolvakansie en die kinders kon by ouma en hul maats by die see kuier.”
Soos haar man, het hul drie kinders, Lené (15), Anke (12) en Jan-Hendrik (10), moedig hul ma se siekte probeer verwerk.
“’n Mens is geskok en hartseer, maar ek het nie die Here verwyt nie. Ek het gedink Hy het dalk ’n plan dat ander gehelp kan word hierdeur.”
Tydens vier chemoterapiesessies was Hanneke 80% van die tyd in die hospitaal. Ná elke kursus kon sy huis toe gaan, maar na vyf dae tuis het sy infeksie opgedoen, en moes sy weer hospitaal toe. Sonder immuniteit het selfs haar eie, natuurlike bakterië, infeksie veroorsaak.
Paasnaweek was sy in die hospitaal met infeksie. Die langnaweek ná Vryheidsdag was sy in die hospitaal met infeksie.
“Ek het die huis gemis, en die perde. Ek het my oor die kinders bekommer. Dit was swaar vir hulle en Petro, maar gelukkig het ek vir Sara wat die huishouding oorgeneem het.
“Ek is ’n positiewe mens en my geloof het my gehelp. Ek glo ek gaan gesond word. Ek het mos nie rede om negatief te word nie. Behalwe, die wag vir ’n skenker vat nou aan my,” erken sy.
“Bedags is ek heeltyd besig, maar as ek in die nag wakker word, dan dink ek.”
Ná die eerste chemoterapiesessie was die leukemia in remissie, maar die vier kursusse, waarin die behandeling afgewissel word om weerstand teen die chemo te probeer verhoed, moes voltooi word.
“Ek weet nie hoe lank ek het voor die kanker weer vatplek kry nie en indien, of die chemo weer sal werk nie.”
Akute myeloid leukemia kan binne weke hervat. Daarom moet Hanneke so spoedig moontlik ’n beenmurgstamsel-oorplanting kry. Haar gesin en familie - niggies, nefies, tannies, ooms - het almal reeds bloed geskenk in die soeke na ’n geskikte skenker, maar niemand se stamselle is versoenbaar nie.
Die soektog op die bestaande Suid-Afrikaanse beenmurgregister was ook vrugteloos.
“My hartsbegeerte is om soveel mense moontlik op die register te kry, nie net vir my nie, maar omdat dit die lewe van iemand anders sal kan red.”
Op 6 Junie om 10:00 tot 14:00 sal lede van die Sunflower Foundation by die NG Moederkerksaal in Wellington wees om skenkers by te staan wanneer bloed daar getrek word in ’n veldtog om Hanneke en ander bloedsiektelyers te kan help.
Bloed waaruit stamselle geoes word, kan ook by Pathcare in die Paarl Mediese Sentrum, geskenk word. Dit kos die skenker R250 vir laboratoriumkoste om die buisie bloed te laat toets.
Om te registreer, of indien die geld ’n probleem is, kan die Sunflower Foundation geskakel word by 701-0661 (Tina Botha of Venessa Horn) of ook Hanneke by 864-1017 of 083-661-7083.
* A Wellington mother of three urgently needs a bone marrow transplant after leukaemia was diagnosed.
More
News
|