Wellington Klopse skeur
2006-06-01
David Joshua
DIE Wellington Klopse Unie het in twee geskeur. Op die onlangse jaarvergadering kon die troepe nie konsensus bereik oor verskille nie en is ’n mosie van wantroue teen die bestuur ingestel.
“Die enigste manier om te herenig is dat die ou bestuur moet bedank en dat hulle moet inval by die nuwe organisasie. Hulle moet registreer onder ’n artikel 21 maatskappy om meer verantwoordelikheid te aanvaar,” het Denver Engledoe, sekretaris van die nuwe liggaam, gesê.
Engeldoe was ’n addisionele bestuurslid by die unie voordat hy deel geword het van die wegbreekgroep.
Die nuut gestigte Wellington en Distrikte Klopse Assosiasie is “vir meer deursigtigheid” as ’n artikel 21 maatskappy geregistreer.
Sewe troepe is geaffilieer onder die nuwe vaandel. Een lid van elke troep dien as direkteur op die bestuur, met een addisionele lid van elke troep.
Die direksie van die Wellington en Distrikte Klopse Assosiasie is voorsitter Nazeem Jooste, sekretaris Denver Engledoe, tesourier Danny van Rooyen en trustees Pieter Samuels, Rodney Coetzee, Hillary Smith, Turnol Abrahams, Edward Langeveldt, Grant du Toit en Peter Coetzee.
Engledoe het die hoofverskil wat aanleiding gegee het tot die skeuring uitgestippel as ’n “ontevredenheid met die ou Unie-bestuurstyl”.
Hy het die bestuurswerkswyse as “verdag en ondeursigtig” uitgewys. ’n Ander ontevredenheid was dat hulle “gestagneer” het in vele opsigte en “nooit te vinde was vir veranderinge en ontwikkeling” nie.
“Die organisasie is op outokratiese wyse bestuur wat baie groepe buite gelaat het in die proses van besluitneming,” het Engledoe gesê.
Die nuwe groep beoog om volgende jaar ’n kompetisie aan te bied waarin van die Kaapse troepe betrek word.
Voorsitter van Wellington Klopse Unie, Willem Walters, saam met koördineerders Heinrich Appollis en Cupido Rogers, stem nie heeltemal saam met Engledoe nie.
“Die skeuring van die klopse en gemeenskap is vir ons ’n hartseer saak. Absolute dissipline, deursigtigheid en demokrasie is egter van uiterste belang in die Unie en lede moet hulle daarby hou.
“Die direkte uitvloeisel van die wegbreek-aksie het tot gevolg gehad dat een troep, Tulips, hom van die affêre gedistansieer het en by drie ander - Lemco, Pelicans en Ghosterians - heers daar nou tweespalt,” het Walters gesê.
Volgens koördineerders Appollis en Rogers, is die hoofoorsaak van die ontevredenheid die uitslae van die jaarlikse Klopse Kompetisie.
Die troep K-Mark Hillcrest Starlites was aangewys as die jaar se algehele wenners, met Coronations die naaswenners en Young Star Entertainers derde.
“Om die waarheid te sê het ons geen probleme met die uitslae van die eerste ses plekke gehad nie. Daar is egter nie deur sekere troepe gehou by die goedgekeurde kriteria nie en troepe is gediskwalifiseer op gronde van appèl-aansoeke wat deur die ander deelnemende troepe ingedien was.
“Kriteria waarvolgens die kompetisie plaasgevind het, is deur die troepe self bepaal,” het Appollis gesê.
Volgens hom moes bestuur uiteindelik die finale besluite oor dié appèlle neem, met gevolglike ontevredenheid.
Walters het die mosie van wantroue verduidelik as “sonder substansie en onproseduurlik”.
“Daarvolgens het ses van die elf troepe die mosie onderteken. Troepe betrokke was Pearlites, Caledonian Roses, Ghosterians, Pelicans en Lemco. Dis gedoen deur individuele lede van troepe en die ondertekenaars het geen mandaat van hul troepe gehad nie.
“Die gemandateerde afgevaardigdes van Pelicans, Lemco en Ghosterians sowel as Tulips, het hulle van die mosie gedistansieer. Eintlik het dus net Pearlites en Caledonian Roses oorgebly wat die sogenaamde mosie van wantroue gesteun het,” het hy gesê.
“Twee ander nuwe troepe, Young Lilies en Superstars, het hulle kom aansluit wat die troepe in die unie nou altesaam op nege te staan bring.”
Die huidige bestuur is vir twee jaar in 2005 tot 2007 gekies en bestaan uit 15 lede met Charles Ruiters as ondervoorsitter, sekretaris Martina Abrahams, kassier Belinda April, boekhouer Moosa Douman en koördineerders Heinrich Appollis en Cupido Rogers.
Walters sê dat verslae van die boekhouer Moosa Douman, rekenmeestersfirma Marinus en Vennote en ouditeur Barend Knight ter insae lê. Geen ongerymdhede is gevind of uitgewys nie.
“Wellington is eintlik die enigste dorp buite Kaapstad met ’n gevestigde troepe-kompetisie en ek sou dit nie graag verkaaps wou sien nie.
“Dis hartseer dat die troepe-gemeenskap nou in twee geskeur is - dalk vir persoonlike eiegewin of ander duistere motiewe.
“Ek sien egter uit na die dag van versoening en ons deur staan oop vir rekonsiliasie,” het hy gesê.
* Wellington’s famous Troups have split.
More
News
|