Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Paarlse vrou eis vir pyn en lyding

Paarlse vrou eis vir pyn en lyding
 
2006-06-01

Lise Beyers

“DIE pyn was soms so erg dat ek al my pynpille op een slag wou drink om ’n einde aan my lewe te maak.”

Só sê Maria Mnyaza, van New Orleans in die Paarl, nadat sy in Oktober 2003 ernstige rugbeserings opgedoen het toe ’n trein waarop sy na Kaapstad gereis het, deur ’n muur gebars het by dié stad se
stasie.

Maria het nou ’n eis van R700 000 skadevergoeding teen Transnet en die Suid-Afrikaanse Spoorpendelkorporasie by die Hooggeregshof ingedien.

As gevolg van die ongeluk het Maria beserings aan haar rug- en lendewerwel opgedoen, wat haar bykans ’n jaar lank in geweldige pyn gedompel het.

Die beserings het haar lewe verander.

Sy vertel hoe sy die oggend van 25 Oktober na haar werkgewer in Seepunt onderweg was. “Ek het heel oggend onrustig gevoel toe ek opgestaan het. Iets het my gepla, maar ek het nie geweet wat nie.

“Toe die trein naby die Kaapse stasie kom, het ek opgelet dat dit nie soos gewoonweg stadiger begin ry nie. Ek het vir ’n vriendin van my gesê dat die Here asseblief nie nou vir my moet neem voordat my drie dogters nie vir hulself kan sorg nie.

“Toe is daar skielik ’n geweldige slag soos ’n bom wat ontplof het, en ons is almal op die grond neergegooi.”

Maria het gesê dat die deure van die trein oopgegaan het en hulle het uitgestrompel en sy het haar bewussyn verloor. “Toe ek weer bygekom het, het ek gevoel dat my enkel seer is, maar dit is eers toe ek probeer opstaan het, dat ek besef het dat daar groot fout met my rug is.”

Sy is na ’n hospitaal in die stad vervoer waar sy pille gegee en ontslaan is. Van hier af het dit vir Maria in ’n nagmerrie ontaard. Sy is heen en weer hospitaal toe met geweldige rugpyn, waar sy elke keer ’n handvol pille gegee en ontslaan is.

Maria kan nie hieroor praat sonder dat sy trane in haar oë kry nie.
Haar werknemer, Milly Redelinghuys, het moeg geraak vir dié situasie, en het Maria na ’n privaat dokter gestuur, wat na deeglike ondersoek vasgestel het dat sy ’n operasie nodig het.

Sy het lank gesukkel met Transnet voordat hulle ingestem het om vir dié noodsaaklike operasie te betaal.

“Voor die operasie moes ek met krukke loop en die pyn was so erg dat ek gevoel het dat ek nie met my lewe kon aangaan nie. Dit was baie vernederend vir my, want ek moes op my dogters staatmaak om my te was en te help in die toilet.”

“Toe die operasie uiteindelik in September 2004 op my uitgevoer is, was dit soos ’n wonderwerk toe ek bykom en my pyn is verlig.

“Ek het steeds ’n bietjie pyn en ongemaklikheid, maar dit is baie beter as daardie tyd voor die ongeluk. Ek kan steeds nie ordentlik buk nie.”

Maria kan weens haar beserings nie na haar werkplek terugkeer nie, of self in haar eie huis werk nie.

As die enigste broodwinner van die gesin, maak sy nou staat op die hulp van haar dogters.

“Ek weet dat die eis nie my normale lewe sal kan terugbring nie, maar ek moet vir myself sorg vir die toekoms.”

* A Paarl mother of three is claiming R700 000 from Transnet.



More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za