Geheim van 'n lang lewe
2006-06-01
David Joshua
SATERDAG het Lodewyk Salmon Truter, boer van die plaas Schoongesicht in Bo Daljosafat, 98 jaar oud geword. Die geleentheid is die aand saam met familie en vriende gevier.
“Julle moet glad nie waag om skelmpies voor my te praat, of om so bietjie van my te skinder nie, want ek kan nog baie goed hoor. Met my gesiente skort daar ook niks nie, want ek lees my Bybel nog elke aand sonder ’n bril!” skerts hy.
“En kyk, ek lees sommer soos waffergoed vir jou die brief wat die Wes-Kaapse Minister van Gesondheid, Pierre Uys, vir my gestuur het. Hy wens my geluk met my verjaarsdag.”
Sowat ses maande gelede het Lodewyk gestruikel, geval en sy heup gebreek. Dis reggemaak met ’n operasie in Paarl Hospitaal en nou stap hy met behulp van ’n loopraam. Hy sê die dokters wil hê dat hy nog sowat ’n maand of twee daarmee oor die weg moet kom.
’n Gebore Paarliet, het Lodewyk in Jan Steynstraat in Noorder-Paarl grootgeword. Hy sê hy het net skoolgegaan tot so standerd vier en sy suster Fransiena het hom eintlik rêrig geleer lees en skryf, want hy het nog ou Nederlands as skoolvak gehad.
Met sy geheue skort blykbaar ook niks, want hy vertel sommer nog lekker oor vervloë dae.
“Hulle kan maar gaan kyk. Ek is in die Strooidakkerk gedoop, maar behoort nou aan die Calvynse kerk wat ek help stig het in Boschstraat. Met die Groepsgebiedewet is ons verskuif na waar die kerk nou staan in Abattoirweg.”
Getroud met Maud Rust, is daar ses seuns en ’n dogter uit die huwelik gebore. Die oudste, Solomon, is nou reeds 72 jaar oud.
’n Tragedie het die familie in die vyftigerjare getref, toe die tweede en derde oudste seuns, Jerry en Louis, toe onderskeidelik 19 en 17 jaar oud, saam in die plaasdam verdrink het.
“Dit breek ’n man,” sê Lodewyk, “maar die Here het ons deurgedra. Die een wou die ander help.”
Lodewyk het dertien kleinkinders en ses agterkleinkinders.
Hy vertel sy geheim vir ’n lang en gesonde lewe is om glad nie te rook en te drink nie. Van die kwota wyn by die KWV het hy nie sy lippe aan gesit nie. Hy het graag krieket gespeel en was lief vir tuinmaak.
“Wees gehoorsaam en onderdanig aan jou ouers en gaan gereeld kerk toe. Moenie die grense van jou voorvaders verlê nie,” voeg hy by.
“Jy moet so bietjie exercise, want daai boepie gaan jou hart aantas,” is sy vaderlike raad aan my met die vertrekslag.
More
News
|