Wie het dorp help bou?
2006-06-29
’n BIOGRAFIESE register oor die mense wat oor die jare heen gehelp het om Wellington as gemeenskap te help vorm, word stadig maar seker opgebou, maar kort nog heelwat inskrywings om dit so volledig en verteenwoordigend as moontlik te maak.
Daarom word Wellingtonners weer genooi om mense te nomineer wat opgeneem kan word in dié register, wat ’n projek van die Wellington Museum is.
Die verskillende volumes oor die geskiedenis van Wellington, wat ’n paar jaar gelede deur die Vriende van die Wellington Museum saamgestel is, maak reeds melding van bekende Wellingtonners - van Piet Retief tot Valiant Swart.
Die idee van die biografiese register is egter om nie net sulke landswyd bekende figure te vervat nie, maar ook erkenning te gee aan mense wat ’n spesifieke rol net in die uitbouing van Wellington gespeel het.
Wellingtonners wat vanaf die dorp se ontstaan ’n impak op die gemeenskap gehad het - hetsy danksy hul onbaatsugtige diens, of weens besonderse prestasies op die gebiede van sport, kultuur of politiek of binne hul beroepe - kwalifiseer vir insluiting.
Die biografiese register sal ’n kort lewensbeskrywing van elke inskrywing bevat, soortgelyk aan die voorbeeld van die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek.
Om in die register opgeneem te word, moet die persoon minstens tien jaar van sy of haar lewe in Wellington of distrik gewoon het.
Dit geld ook vir mense wat hier grootgeword of skoolgegaan het, en hul prestasies in die lewe elders behaal het.
Die register sal nie net op hedendaagse inwoners fokus nie, maar ook uit Wellingtonners wat van die vroegste dae van die dorp se bestaan ’n impak gehad het.
Dus word familielede wat ’n lewensbeskrywing van een van hul voorouers kan gee, ook uitgenooi om dit te doen.
Lewensbeskrywings, huldigingsredes, getuigskrifte of ou koerantknipsels sal baie help om ’n sinvolle inskrywing vir die biografiese register te kan saamstel.
Nominasievorm is beskikbaar by die Wellington Museum 873-4710 of stuur inligting aan dr Etienne Smit by gertie@iafri ca. com.
More
News
|