Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Skakelman vir sport

Skakelman vir sport
 
2006-06-29


SPORT kan die gemeenskap bymekaar bring. Dit gaan vir my oor die behoeftes van die gemeenskap daarbuite en ek sal dit probeer aanspreek na die beste van my vermoë, saam met al die rolspelers.

Só sê Maawyah Moerat, pas aangestelde sportskakelbeampte van Drakenstein munisipaliteit. Hy sal as skakel dien tussen die Raad en die Drakenstein Sportforum.

Hy het onlangs uit Engeland teruggekeer, waar hy diep sportspore getrap het in veral skoolkringe.

Op sy lessenaar pryk ’n brief van die burgemeester van Southend-on-Sea, Ron Price, waarin hy bedank word vir sy bydrae tot skolesport in dié munisipaliteit.

Moerat is in 1999 oorsee, nadat LO as vak afgeskaf is by skole. Hy het by Westborough Primary in Westcliff-on-Sea in Engeland gaan werk.

Maawyah is ’n gebore Paarliet. Hy het sy skoolloopbaan begin by die ou Moslemskool op die hoek van Weiss- en Malaystraat. Daarna is hy Ebenezer Primêr en Noorder-Paarl Sekondêr toe.

Hier is hy in 1976, toe hy in standerd sewe was, toegesluit op ’n klag van klipgooi.

“Ons het in die hof voorgekom en het ses houe elk gekry,” kan hy vandag met ’n glimlag vertel.

Hy onthou ook baie goed die gróót polisieman wat die slae uitgedeel het.

“Maar dit het my net sterker gemaak om te veg vir die proses.”

Hy was hoofstudent van Athlone Kollege en begin sy loopbaan by Paulus Joubert Primêr as LO-onderwyser en sportsameroeper - ’n pos wat hy tot in 1999 beklee.

Hy rig alle sportkodes af, maar is baie betrokke by die afrig en administrasie van atletiek en swem op Paarl en Boland-vlak.

Met die stigting van Ussasa in die Paarl word hy ondervoorsitter van die swem en vergesel die SA-span na Australië vir die Wêreld Skolebyeenkoms in 1996.

Hy word die nasionale ontwikkelingsameroeper en toe voorsitter van Boland swem.

In 1998 is hy die assistent-bestuurder vir die span wat China toe gaan vir die Wêreldspele.

“In 1999 het die Onderwysdepartement begin met rasionalisasie. LO as vak het weggeval en ek het gevoel daar is nie meer plek vir my nie.”

Hy doen hier en oorsee aansoek vir sportposte en kry ’n aanbod uit Engeland om sport te gaan afrig by ’n spesiale skool.

In 2001 aanvaar hy dié pos met al sy besondere uitdagings. Die eerste jaar is hy sonder sy gesin daar.

“Ek moes maar my eie klere was en kos maak,” lag hy.

“Ek het baie betrokke geraak in South-End en dit is toe dat Westborough Primary my nader met ’n aanbod.”

In daardie stadium was Maliek Kassiem, bekende tennisspeler van die Paarl, ook in Londen en hy en Maawyah land op die kortlys vir die pos.

Westborough stel toe voor dat die pos in twee gedeel word om albei van hulle te akkommodeer, maar Kassiem aanvaar ’n pos in Katar en Maawyah is op sy eie.

“Dit was ongelooflik,” vertel hy entoesiasties. “Hulle het my soveel ruimte gelaat. Ek kon sport by die skool ontwikkel van niks tot ’n mag om mee rekening te hou.”

Sokker, in die sokkermal Engeland, was natuurlik hoog op die agenda. Maar hy het ook aandag gegee aan basketbal, hokkie, tafeltennis, rugby, swem, atletiek en landlope.

“Ek het rugby begin in South-End en aangeklop by die Engelse rugby-unie vir hulp. Ons het begin met ‘tag’-rugby, amper iets soos ons raakrugby.

“Ons het ook ’n toernooi met trofeë en medaljes begin. Dit het gegroei van drie skole tot 16 skole by die laaste toernooi, twee weke voor ek daar weg is.”
Hy raak aangedaan as hy praat oor dié toernooi. Na afloop van die wedstryde is hy vorentoe geroep om die oorhandigings te doen, onder meer aan sy eie skool wat die algehele wenner was.
“Ek was baie verras om te sien dat hulle ’n wisseltrofee, die Moerat Shield, laat maak het.”

Gesels ’n mens egter met die personeel van Westborough, besef jy watter impak Maawyah op die skool én gemeenskap gehad het.

Tydens ’n onlangse besoek aan Suid-Afrika het skoolhoof Jenny
Davies skoon bewoë geraak oor Maawyah se besluit om terug te kom Suid-Afrika toe.

Sy het sy bydrae as onontbeerlik beskou en gesê dit is as gevolg van hom dat dié skool nou bande met skole in die Paarl opgebou het.
Maawyah se bydrae het veel verder as die skool gestrek. Hy was betrokke by die Essex-toernooi en moes ook met raadslede onderhandel oor sportgeriewe.

Een van sy grootste deurbrake was ’n ooreenkoms met ’n privaatskool om hul binnenshuise sportgeriewe te gebruik, iets waaroor die staatskole nie beskik nie.

En die leerders? “Hulle is maar dieselfde as hier, net ’n bietjie meer gevorder, en hulle ken natuurlik hul regte,” vertel hy.
“Maar sport gee ’n mens ’n houvas op hulle.”

Maawyah se vrou, Kamilah, het haar pos by Al Azhar in die Paarl gelos om in 2002 by hom aan te sluit. Sy het onmiddellik ook ’n pos by Westborough gekry.

Maawyah se kinders het vinnig aangepas. Fadel, ’n kranige rugbyspeler, het eers vir Barking en later Ahlwick gespeel. Hy studeer nou sportbestuur by Maties.

Riefaat is nog steeds in Engeland met ’n twee jaar werksvisa.
Die ander twee, Waleed (12) en Farah (7), was albei daar in die skool. Farah het haar skoolopleiding daar begin.

Maawyah vertel dit was nie ’n maklike besluit om terug te kom nie.
“Maar ons is familievas en die kinders het nie meer hul ouma, niggies en neefs geken nie.”

Sy ma se gesondheid het ook begin agteruit gaan, wat ’n groot rol in sy besluit gespeel het.

Uiteindelik is sy ma oorlede net ’n week nadat hy terug was.
“Ek glo God wou dit so hê. Sy het vir almal gesê sy wag net vir my om terug te kom.”

Maawyah is baie opgewonde oor sy nuwe pos en glo hy kan, saam met al die rolspelers, ’n verskil in Drakenstein maak.

“Ek het baie kursusse oorsee bygewoon en is beter gekwalifiseer as toe ek hier weg is. Baie mense gaan oorsee vir geld, maar vir my het dit daaroor gegaan om myself te verryk en kennis op te doen.

“Ek het altyd geweet dat ek eendag sal terugkom en nou is ek hier om te bly.”



More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za