Vlytig in skoolvakansie
2006-07-13
’n GROEP graad tiens van Bergrivier Sekondêr op Wellington, het besluit om gedurende die Junie-vakansie betrokke te raak by ’n gemeenskapsprojek - die finale fase van die bou van die Little Stars Kleuterskool op Newton.
Die projek is deur die ouers self beplan, gebou en is deur die Lotto gefinansier.Die doel was tweeledig. Eerstens wou hulle ’n bydrae maak tot hul Alma Mater, aangesien hulle self tien jaar gelede by die kleuterskool was, en tweedens wou hulle dit as basis gebruik vir hul Lewensoriënteringstaak.
Lewensoriëntering is sedert die infasering van die nuwe graad tien-sillabus verpligtend. Daar word van leerders verwag om verskeie vaardighede en konsepte te bemeester ten einde die vak te slaag en hierdie vak móét geslaag word om dié graad te slaag.
Curtis-Ross Le Cordeur, die groepleier, het by die kleuterskool ’n behoeftebepaling gedoen oor hoe hulle met beperkte kennis, vaardighede en hulpbronne ’n bydrae kon maak.
’n Plaaslike sakeman, Moos Petersen wat spesialiseer in die installering van glas, is genader. Hy het al sy oorskotglas aan hulle geskenk.
Die jongmanne is geleer om die glas op maat te sny en self in te sit. Uiteindelik het hulle 900 venstertjies uit die oorskot-glas gekry.
Aan die einde van die vakansie kan hulle nou ’n gedetailleerde taak aan hul Lewensoriëntering-onderwyser oorhandig. Skielik is konsepte soos gemeenskapsbetrokkenheid, behoeftebepaling, selfbemagtiging en volhoubare ontwikkeling nie meer sulke vreemde konsepte nie.
* Grade tens are trying their hand at community projects as part of their syllabus.
More
News
|