Wag vir die motors...
2006-07-27
‘n MENS is geneig om deur hulle te kyk, verby hulle te kyk. Maar as dit liters reën of as dit so ysig is wanneer jy laat saans uit die fliek stap, is jy tog bly om in ‘n ongeskonde motor te klim.
Motorwagte speel ‘n belangriker rol as waarvoor baie mense hulle krediet gee.
Dié wat aangestel word deur besighede, sak nie op jou toe vir ‘n beloning vir die vier ure wat jy in die winkels rondgeloop het nie.
‘n Wag soos hierdie, is Bobo Paul (29) wat by die Paarl Mall staan.
Hy is een van die 15 wagte in dié spesifieke parkeerarea, en is van die Demokratiese Republiek van die Kongo afkomstig.
“Soms kry ek R50 vir die dag se werk, maar ek moet R30 daarvan aan die sekuriteitsmaatskappy betaal wat die klere verskaf, want dis mos nie my besigheid hierdie nie,” het Bobo vertel.
“Die res stuur ek vir my vrou sodat sy kan sorg vir onse kind,” het Bobo gesê.
Tydens sy skofte het hy nog nooit probleme gehad met iemand wat wil inbreek of ‘n motor wil beskadig nie.
“Hier kom niemand nie. Dis net die motors en die se mense wat hier kom en dan weer ry.”
Of die son neerbrand en of dit sous, doen hy sy werk.
“Wie is ek om te kla? Ek kon darem uit die Kongo kom en nou kan ek sorg vir my gesin,” het Bobo gesê.
Hy was nog nie huis toe om te gaan kuier nie.
Volgens hom is die publiek in die algemeen vriendelik teenoor hom. Hy reken Suid-Afrika is ‘n land “vol vriendelike mense”.
Alfonds Dzowlou (32) het 1998 van die Kongo in die Paarl gekom. Hy werk op Van der Lingenplein in die middedorp.”
Hy het in Suid-Afrika getrou en het een kind vir wie hy sorg.
Wat hy verdien, kan hy huis toe neem, sonder om ‘n bedrag af te staan aan enigiemand.
“Die publiek is gaaf. Maar toe ek hier begin het, het mense baie baklei oor wie waar mag motors oppas.”
Alfonds staan onder die bome of by ‘n afdakkie as die weer nie saamwerk nie.
“Ek trek die kappie net so,” beduie hy met sy hand by sy kop, “en dan staan ek maar stil. Dit raak maar koud ook.”
Soms onthou hy om sy sambreel saam te vat werk toe.
Alfonds en Bobo is van die min Kongolese wat meer as net “dankie” kan verstaan, wat die werk en die bly hier aansienlik bemoeilik.
Die Malawiër Leonard Jannes (27) is ‘n ou hand in die oppas van motors en staan op Patriotplein.
“Ek is nou al tien jaar besig hiermee. Dit betaal min, maar ek het nie meer nodig as dit nie,” vertel Leonard.
Hy het alleen na Suid-Afrika toe gekom in 1999 om te soek vir werk.
Die rand se waarde en die mense hier, maak dit vir hom die moeite werd, maar tog wil hy eendag weer terug gaan na sy land toe.
“Almal is so goed vir ‘n mens hier. ‘n Vrou het my ‘n slag ‘n paar skoene gegee wat beter is as myne en ek het al ‘n koeldrank gekry by ‘n ou man.”
Daar is ook Suid-Afrikaners wat werk as karwagte.
Johannes Ndjeni (19) is nog “nuut” in die bedryf. Hy het nie skool klaar gemaak nie en werk nog net ‘n paar weke as ‘n motoroppasser by Zeederbergplein aan die Hoofstraat.
“Dis harde werk. ‘n Dag kan lank raak. Baie kere het ek al vir ure ‘n kar opgepas en dan kom die mense terug met sewe sakke vol kos en hulle mompel ‘n `dankie’ en sit ‘n paar sente in my hand,” vertel hy verontwaardig.
Dikwels sukkel hy om staanplek te kry. “Daar is so baie mense wat dit doen, hulle staan oral en is afgunstig.”
“Ek is nie seker of dié werk vir my bedoel is nie. Dalk moet ek liewer moed opgee of De Doorns toe gaan na my familie,” meen hy moedeloos.
Petoors Jenkins (35), wat in die omgewing van die Meulstraat-biblioteek staan, sê: “Die mense, hulle kan ook maar nie altyd baie gee nie. Hulle het ook mense om voor te kyk by die huis.
“Maar wat moet ek doen? My een hand pyn altyd en ek het nie ver gekom in die skool nie.”
Hy het ses kinders en pas maar nou en dan ‘n motor op om sy vrou te help sorg vir die kinders.
Op dae wat die weer sleg is, sit hy nie ‘n voet uit sy plakkershut nie. “Nee, ek kyk hom net so, dan bid ek Vader, ek sal maar vandag minder eet sodat daar vir môre nog is,” erken hy.
More
News
|