Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Gemeenskap maak beursies oop vir Gert

Gemeenskap maak beursies oop vir Gert
 
2006-07-27


IN ‘n tyd waarin koerantopskrifte wemel van moord en geweld, is die storie van hoe Wellington haar hart oopgemaak het en binne drie weke meer as R120 000 ingesamel het vir ‘n operasie vir Parkinson-lyer Gert Engelbrecht, inspirerend.

Of soos oud-onderwyser Gert, wat al elf jaar lank aan die siekte ly, dit stel: “Dit laat ‘n mens klein voel”.

Parkinson se Siekte affekteer die deel van die brein wat beweging beheer, en kan onder meer onbeheerste bewing of styfheid van ledemate en spraakprobleme veroorsaak.

Gert (51) was 21 jaar lank houtwerkonderwyser by Hugenote Hoërskool voordat dié ongeneeslike siekte hom vyf jaar gelede gedwing het om op te hou werk.

Teen daardie tyd moes hy tot 21 pille per dag drink om te kon onderwys gee, wat hom fisiek siek gemaak het.

Gert, bygestaan deur sy musiekonderwyseresvrou Leana, het hom egter nie laat onderkry nie. Hy het sy kunsstreep herontdek en binne twee jaar 200 portretstudies voltooi.

‘n Opdrag van ‘n man uit Hermanus om die Groot Vyf te teken, het hom ‘n nuwe rigting laat inslaan en is hy deesdae ‘n bedrewe natuurlewe-kunstenaar wat onder meer verlede jaar by die Wellington Museum saam met ander kunstenaars uitgestal het.

Die afgelope paar maande het sy toestand egter baie versleg, en het die spasmatiese bewegings wat hom so vasklem, Gert behoorlik laat stoei en spartel na asem.

In April is hy saam met sy een swaer na die nasionale konferensie oor Parkinsons in Kaapstad om van sy sketse uit te stal.

Daar het neuroloog dr Jennifer Fine hom behoorlik sy ore laat spits met haar praatjie oor ‘n operasie wat uiters geskik is vir Parkinson-lyers met die tipe diskenese (spasma-bewegings) wat hy het.

‘n Elektriese apparaatjie word in die pasiënt se kop ingeplant en gekoppel aan ‘n sendertjie in die bors. Dit word met ‘n grys handsender wat baie soos ‘n televisie-afstandbeheerapparaat lyk, geaktiveer om ‘n elektriese impuls na die brein te kan versterk of verswak.

Die elektriese impulse aktiveer die dele van die brein wat weens Parkinsons geaffekteer is en hou die rukkerige bewegings van die pasiënt in toom.

Gert het ‘n afspraak met die Kaapse spesialis dr Roger Mellvill gemaak, wat hom as ‘n “ideale kandidaat” vir die operasie bestempel het.

Ongelukkig het sy mediese fonds nie saamgestem oor die noodsaaklikheid daarvan nie, en wou aanvanklik nie die sowat R130 000 daarvoor toeken nie.

Dit is waar die Wellingtonse gemeenskap, en spesifiek Gert se tuisgemeente NGK Wellington-Oos waar hy 15 jaar lank gehelp het met sangbediening, betrokke geraak het om ‘n fonds vir hom te stig.

Selgroepe het begin woeker. Koeksisters is gebak, insamelingslyste is by skole rondgestuur en sakemanne is genader - en die geld het begin instroom.

“Eendag stop ‘n man wat ek van geen kant af ken nie by my huis met ‘n ‘Dê, hier is vir jou geld’ en ry toe weer, sonder om eens te wil inkom vir tee,” vertel Gert dankbaar oor die talle vriende en onbekendes van Wellington en die Paarl wat hul harte oopgemaak het.

Die operasie was geskeduleer vir 24 Augustus, maar vroeg een oggend het leraar ds Jan Grobbelaar opgewonde by die Engelbrechts se huis in Van der Merwestraat kom kuier met die goeie nuus dat R82 000 al ingesamel is.

En die boodskap in geloof: vervroeg die operasie, daar sal genoeg geld wees. ‘n Week of wat later is die R120 000 kerf verbygesteek.

Uiteindelik is die operasie danksy ‘n kansellasie vroeg in Julie gedoen, wat ‘n groot genade was aangesien Gert al hoe meer gesukkel het om asem te haal.

Gert, nou met ‘n poenskop-hare na die operasie, is reeds byna twee weke terug by die huis en baie tevrede met sy verbeterde mobiliteit.

Hy praat nog swaar, en die rukkerige bewegings is nog met hom.

Skakel hy die sendertjie aan en af kom mens egter eers werklik agter watter wesenlike verskil dit maak. Nou moet die medisyne wat
hy sal moet aanhou gebruik, nog net saam met die apparaat gekalibreer word om die maksimum-effek te verkry.

“Ons vriende spot dat ek nou vir Gert kan aan- en afskakel met die sendertjie,” glimlag Leana.

Die seëninge van die operasie duur nog voort. Minute voor die Paarl Post se besoek, bel hul mediese fonds met die nuus dat hulle wel R45 000 tot sy mediese koste sal bydra, wat beteken dat sy operasie ten volle betaal is.

Wellington-Oos gaan nou die oorblywende geld aanwend vir ander gemeentelede wat swaartrek weens hoë mediese kostes.

Die fondse wat ingesamel gaan word tydens ‘n dans na afloop van Hugenote Hoër se matriekafskeid, waartydens van Gert se
kunswerke ook opgeveil sal word, sal ook hierin gestort word.

Die Engelbrechts kan nie uitgepraat raak oor die empatie en warmte van so baie gebede en seëninge wat hulle ervaar nie.

Ds Jan is op sy beurt vol lof vir sy gemeentelede en die praktiese wyse waarop hulle Wellington-Oos visie van “omgee vir mekaar na binne en buite” deur die fondsinsameling uitgeleef het.

“Maar alle eer kom eerstens die Here toe,” sê hy.
En dit beaam die Engelbrechts.

* Mense wat nog ‘n bydrae tot die Gert Engelbrecht Fonds wil maak, kan vir Grieta van Zyl by die Wellington-Oos kerkkantoor kontak.



More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za