Van die straat tot in die skool
2006-08-03
MET al hoe meer kinders wat deesdae stokkiesdraai, is ’n spesiale Aanmeldingskantoor nou in Paarl-Oos geopen om skolier-afwesigheid aan te spreek.
“Slegs sowat 50% van alle graad eens haal graad twaalf. Ons moet skoolbywoning bevorder,” sê die hoof van gespesialiseerde leerder- en opvoederondersteuning by die OBOS-kantoor, dr Leon de Jager.
“Dinge soos dronkenskap, dwelmmisbruik, molestering en verwaarlosing van kinders deur ouers gee aanleiding daartoe dat kinders die skool voortydig verlaat,” het hy gesê.
Die nuwe Aanmeldingskantoor in Solomonstraat, agter die Paarl-Oos polisiestasie (die ou poskantoorgebou), speel nou ’n leeuerol om skoolbywoning te bevorder.
De Jager hoop dat daar saam met die Departement Sosiale Dienste en polisie ’n oorkoepelende liggaam gestig kan word om die beste belange van die kinders te dien.
Die aanmeldingskantoor-projek is deur De Jager saam met maatskaplike werker Esna Bruwer geloods, wat per toeval ook haar bekommernis oor die vele straatkinders teenoor hom uitgespreek het.
Hulle het besluit om ’n organisasie te loods en nou skree die baba hard om aandag.
Praat jy met Jenny Louw, aan die roer van sake by die Aanmeldingskantoor, hoor jy van die sukses wat reeds deur hulle behaal is.
Sy vertel dat hulle as die Khula Ontwikkelingsgroep reeds vier jaar met hierdie werk besig is.
Die doel is nie om straatkinders te huisves nie, maar eerder om ’n plek daar te stel waar ouers kan aanmeld dat hul kinders nie meer gereeld skool bywoon nie.
“Ons het verlede jaar reeds 44 kinders terug op skool gekry en hierdie jaar al sewe,” vertel sy trots.
“Om egter die stories van die kinders te hoor oor waarom hulle die skool verlaat om doelloos die strate in te vaar, maak ’n mens hartseer,” sê sy.
Onder huislike probleme is drankmisbruik, stiefpa-molestering en geen kos by die huis nie.
So sê een kind: “Ek steel nie, ek skarrel net vir ’n stukkie brood vir my ouma.”
Sy ma is oorlede, sy pa is ’n plaasarbeider, daar is drankprobleme by die huis met omtrent sewe inwoners wat moet leef van die pa se arbeiderloon en die ouma se pensioengeld.
Die Aanmeldingskantoor het onder meer al ’n gesin gehelp wat nie identiteitsdokumente gehad het nie.
Dis gedoen om hulle sosio-ekonomiese toestande by die huis te verbeter sodat kinders wat nie skoolgegaan het nie, herintegreer kon word met die gesin.
So is daar die 14-jarige Dino Kees* van Springbokstraat en die 12 jaar-oue Anne Jansen* (*skuilname) wat gesê het dat hulle graag terug skool toe wil gaan.
Kees* het skool verlaat in graad vier en Jansen* in graad twee. Skoolhoofde word gekontak met die oog op hertoelating en kinders se aansoeke word tans verwerk, om hulle gepas in die regte graad te plaas.
Louw vertel dat sy en vyf ander, een ’n vrywilliger, die aanmeldingskantoor beman.
Soggens gaan hulle uit om van die kinders op te spoor. Hulle word huis toe geneem, gewas as dit nodig is, kos gegee en versorg.
Kinders word nie van hulle ouers weggeneem nie en hulle tree amper soos peetouers op vir so lank as dit nodig is.
Louw sê dat hulle tans goeie ondersteuning van die Paarl-Oos polisie geniet en veral inspekteur Manie Human reël aktiwiteite om kinders wat betrek is, besig te hou.
“Ek het reeds ’n sokkerspan, die Disa Strikers in Lantana, saam met hulle begin.
Die kantoor is vir befondsing afhanklik van besighede en die publiek. Indien meer fondse beskikbaar is, kan die projek verder uitbrei.
Bel dr Leon de Jager by 860-1204 of 083-230 -8364, Jenny Louw by 078-119-2803 of inspekteur Manie Human by 082-427-8728.
More
News
|