Paarliete besoek Robbeneiland
2006-08-10
DIE Drakenstein Biblioteekvriende het onlangs besoek afgelê by Robbeneiland. Hulle is vergesel deur 20 minderbevoorregte kinders uit die gemeenskap en 48 volwassenes.
“Die toer was so veeldoelig, want mense in die gemeenskap het die geleentheid om vir die eerste keer Robbeneiland te sien, te ervaar en om ’n deel van hul gemeenskapsgeskiedenis te leer ken en te verstaan,” sê Drakenstein bibliotekaressse en toer-koördineerder Mercia Sias.
Dit het ook vir die biblioteek fondse ingebring om voorraad soos nuwe boeke aan te koop.
Terselfdertyd word mense ook die geleentheid gebied om van die plaaslike inwoners wat politieke oud-gevangenes is, te ontmoet.
“Die toer was vir ons dus ook van historiese waarde, want van die oud-gevangenes uit die Paarl het saamgegaan,” het sy gesê.
Hulle is May Speelman wat van 1963 vir 17 jaar aangehou is, Tom Moses wat van 1976 vir 12 jaar daar aangehou is, Titus Hendricks wat van 1984 vir vyf jaar daar was, Jama (Michael) Matakata wat sedert 1986 vir vier jaar daar was en Colin Ndevu wat van 1987 vir vier jaar daar was. Matakata en Ndevu kon nie die toer meemaak nie.
“Ons toerlede kon beter identifiseer met die oud-gevangenes se storie want hulle het saam met die ander gidse opgetree en in hulle eie woorde vertel van hulle wedervaringe.
“In sommige gevalle was dit baie emosioneel toe hulle gepraat het oor hulle tyd daar op die eiland,” vertel toerlede Denise Ontong en Serie Williams tegelyk.
Daar was ook drama op die toer, want ’n lid van die groep, Lenie Benjamin, het erg seesiek geword van die bootreis na die eiland. Sy is in die hospitaal op die eiland behandel.
Sias het belangstellendes genooi om deel te word van die Vriende-organisasies van biblioteke.
Die doel is veral om hulle bewus te maak van die rol van die biblioteek, om biblioteek-personeel te leer ken en om vertroue wedersyds te versterk.
Die volgende uitstappie na Robbeneiland word beplan vir September. Bel Mercia by 862-5127 of 084-655-9284.
More
News
|