Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Van 800g baba tot blakend gesond

Van 800g baba tot blakend gesond
 
2006-08-10

David Joshua

“Ek móét hier wees. Hier by mamma en pappa, want julle is goed vir my,” is die bekkige woorde van Andrea Jantjies (8).

Sy is nou ’n gesonde woelwater in graad drie, maar het as vroeggebore baba ’n skamele 800 gram geweeg en daar is gevrees vir haar lewe.

“My hart kon breek die eerste keer toe ek my kind sien, want sy was dan so bitterlik klein. My gebed aan my Skepper was om haar asseblief tog aan die lewe te hou,” sê Aletta Jantjies van haar eersteling.

Andrea is byna drie maande te vroeg gebore en het boonop dermontsteking (Necrotizing Entrocolitis) opgedoen. Weens bloedarmoede moes sy boonop ’n bloedoortapping ontvang.

“’n Bakkie margarien het soveel soos sy geweeg en haar massa het verder geval tot 700gram ná geboorte. Sy het van kop tot tone in my een handpalm gelê,” vertel pa Faustino.

Andrea is met ’n vroeë keisersnee in die wêreld gebring, omdat haar ma ’n nie-kwaadaardige groeisel in die baarmoeder gehad het. Dit het die baba vasgedruk.

Die ma was onbewus van die gewas wat onder die invloed van die swangerskap hormone, saam met die baba gegroei het. Dit was ook die direkte oorsaak dat Andrea vroeër gebore was.

Kleine Andrea is in Groote Schuur Hospitaal dadelik in die intensiewe neo-natale sorgeenheid geplaas waar sy ’n maand gebly het.

Hierna was sy nog twee maande in die broeikas om gewig op te tel, tot 1,8kg met haar ontslag.

Sy kon egter steeds nie drink nie en moes met ’n klein bekertjie gevoed word. Toe het maande van Kangaroe-sorg boonop voorgelê.

By Rooi Kruis Kinderhospitaal is sy met ligte serebrale verlamming gediagnoseer, maar hierdie toestand het verdwyn met terapie.

Volgens haar ma het Andrea blykbaar geen letsels oorgehou nie, want skolasties ondervind sy geen probleme nie. Sy hou van tale, kuns en musiek, en dans graag.

Volgens haar skoolhoof, Gail Pietersen, vorder sy uitstekend op skool.

“Ek het gevrees dat ek nie weer kinders sou hê nie, maar 18 maande later is Joshua gebore en twee en half jaar later Caleb,” sê sy dankbaar.

Die egpaar werk albei uit die Paarl - Aletta by die Eersterivier hospitaal en Faustino by die Kuilsrivier kantoor van Sosiale Dienste.

* A young Paarl girl is excelling at school, although she only weighed 800g at birth.



More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za