Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Sterker as Stormers

Sterker as Stormers
 
2005-04-21

Malané Bosman

DIT was beter as die Stormers-wedstryd, dié gehardlopery agter ’n man met ’n handsak onder die blad.

En toe vervyf Jan Munnik van die Paarl nie net die drie nie, maar juig omdat ’n hele span saamgewerk het om die handsakdief plat te duik.

Jan, koster van die Strooidakkerk, mis nie sommer ’n Stormers-wedstryd nie, maar Saterdag moes hy in die ry staan by ’n troue.
Daarom was hy die middag vyf-uur met Langenhovenweg op pad na ’n vriend wat die wedstryd vir hom op video opgeneem het.

So byna by die Sonstraalpad het hy gesien hoe ’n man met ’n handsak in die hand hom tegemoet gehardloop kom, met ’n bejaarde vrou agterna.

Om die man te probeer keer, het Jan sy motor so naby moontlik aan die veiligheidsreling getrek, maar die naeler was te dun en het deurgeskuur.

“Toe los ek die motor net daar aan’t luier en ek sit hom agterna. So in die hardloop skree ek net, stop hom, stop hom.”

Twee mans in ’n motor het met wonderlike tydsberekening hul passasierdeur oopgemaak net toe die dief by hulle gekom het, en hy het doer getrek, maar hy is weer op en verder.

“Ek was steeds agterna, al het ek nie meer kraakbeen van die ou rugbybeserings nie.”

Teen dié tyd het die twee-stuk, met die vrou ’n halwe veld agter, al 80m ver gehardloop.

“Ek was moeg, maar ek het bly skree dat iemand moet help keer. Net toe wou die dief by ’n motor verby waar ’n man met ’n moersleutel ’n wiel sit en omruil.

“Die man het die sleutel opgelig, en die man met die handsak een hou oor die kop gegee dat hy bedwelmd is. Maar nog was hy nie plat nie.”

Dis toe dat ’n fris man in ’n groot vragmotor die petalje sien en stop. Hy het uitgespring en die dief geduik soos die Stormers behoort te doen.

Binne sekondes was daar ’n skare mense uit die Amstelhof woonbuurt en was die verdediging net te oorweldigend.

“Daar was tot ’n prostituut wat kom skel het dat sulke onmanierlike gedrag haar kliënte afskrik.”

Die dief het handdoek ingegooi, en die slagoffer kon bewerig haar handsak met paspoorte en al terugkry.

“Dit sien ’n mens net in films,” glimlag Jan toe styf-styf die volgende dag.

“Dit was ’n bejaarde egpaar uit New York wat verdwaal het op pad na Franschhoek, en toe hulle stop om aanwysings te vra, toe gryp die Paarliet die handsak deur die oop motorruit.

“Hulle is seker aan sulke goed gewoond in New York,” meen Jan. “Maar so wat van saamspannery om ’n boef vas te vat, ken hulle beslis nie. Dit was wonderlik toe ek besef almal is moeg vir misdaad.”

Boonop het ’n dominee van die omgewing toe ook daar stilgehou, en aangebied om die egpaar tot in Franschhoek te begelei.

Of Jan toe ooit die Stormers se wedstryd op video gesien het? Ja, maar nie eens op hul beste sou dié span kon sorg vir ’n meer opwindende 40 minute nie.

* A handbag thief was tackled like a scene from an action movie.



More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za