Skrywers vat die spoor van historiese vroue
2006-08-17
Christine Siebrits
OP Vrouedag, 9 Augustus het ‘n groepie vroue die spoor gevat van besondere vroue van Wellington wat ‘n groot bydrae tot die onderwys gelewer het.
Die toer is gelei deur Winnie Rust, skrywer van die boek “Martha”, oor die Wellingtonner wat ‘n Britse hertogin geword het.
Winnie kom uit ‘n skrywersfamilie. Haar vader, CP van der Merwe, ‘n jonger broer van Boerneef, was ook onder andere skrywer van baanbreker-taalhandreekse vir Afrikaans.
Vroue wat vir die doel van hierdie toer geïdentifiseer is, was onder andere Abbie Ferguson, deur wie se ywer die eerste vrouekollege in die land tot stand gekom het, en Martha Solomons, Countess of Stamford wat grond in Wynberg vir ‘n skool geskenk het. Martha Solomons het ook ‘n Wellington-verbintenis.
Die groep het by die Wellington Museum begin, waar foto’s gewys en toeligting verskaf is.
Plekke wat besoek is, was die terrein van die White House, waar die eerste skool vir dogters in 1874 begin is, en Huis Cummings, waar die hoeksteen in 1897 van die eerste Vrouekollege in die land gelê is.
Daarvandaan is die groep Hexberg langs die Bovlei in, waar onder andere die Bovlei Sendingkerk besoek en historiese plase uitgewys is.
Die Bovleikerk was van die vroegste kerke waar slawe gedoop en gekatkiseer is. Hier het Charlotte Cupido ‘n bydrae gelewer by die Bovlei skool waar sy jare gelede onderwys gegee het.
Hans Nieuwmeyer en Sandra Steytler het in die Bovlei by die groep aangesluit. Hulle is die skrywers van “Bain’s Kloof Pass, Gateway to the North” en het meer vertel oor die historiese pas.
More
News
|