Dorp geruk deur rowers
2006-08-31
WELLINGTON steier steeds ná die gefnuikte gewapende roof verlede Woensdag by die Markplein-winkelsentrum waartydens verskeie skote in Voorstraat gevuur is.
Die hele dorp is in rep en roer oor die gebeurtenisse, toe ses mans ’n Coin sekuriteitsvoertuig beroof het van meer as R100 000.
Die rowers was onbewus daarvan dat ’n taakmag uit Kaapstad hulle reeds sedert vroeg die oggend agtervolg het.
Met hul aankoms in Wellington, het die lede van die taakmag die rowers dopgehou totdat hulle die sekuriteitswa beroof het en met hul buit probeer ontsnap het.
In Voorstraat is hulle aangekeer, maar nie voor ’n skermutseling tussen hulle en die polisie nie.
Drie rowers is tydens die skietery beseer en in hegtenis geneem saam met nog ’n man. Nog twee rowers het daarin geslaag om te ontvlug.
’n Werknemer by die Wellington inligtingsentrum op die hoek van Hoof- en Voorstraat, Lottie Aylward, het vertel hoe sy in die kantoor was toe die skote reg langs die gebou begin lostrek het.
“Ek was heeltemal stomgeslaan en het nie besef wat aangaan nie,” het Lottie gesê.
“Kort ná die voorval het die telefoon onophoudelik gelui met mense wat navraag doen oor of ons beseer is.”
’n Man wat elke dag by die Wimpy in die sentrum koffie drink, het rustig gesit toe die chaos losgebars het.
“Almal het dadelik platgeval en ons kon die rook van die skietery langs die gebou sien trek.
“Toe dit stil raak, het ek na Voorstraat gehardloop en vier mans sien lê in ’n plas bloed. Dit was eers toe dat ek besef wat gebeur het. Dit was werklikwaar soos ’n toneel uit ’n Wilde Weste fliek.”
’n Sekuriteitswag het gesê dat hy die toneel voor sy oë sien afspeel het. “Ek het sedert 09:00 verdagte persone by die sentrum opgelet. Hulle het doelloos rondgedwaal.
“Toe die Coin voertuig voor Pick ’n Pay stilhou, is die mans dadelik daarheen. Een man het die wag met die koffer geld vasgedruk, en ’n ander het die koffer gegryp.
“Ek wou nie inmeng nie, want die rowers was gewapen.”
Maar verskeie winkeleienaars in die sentrum is glad nie beïndruk deur die gebeure nie.
“Die aanval het so te sê by ons voordeur plaasgevind en dit was skrikwekkend,” het ’n lekkergoed-winkeleienaar gesê.
“Ek is baie ongelukkig oor die feit dat die taakmag ons lewens in gevaar gestel het om die diewe op heterdaad te betrap.”
“Ons voel daar moet meer gedoen word om die sentrum te beveilig. Verskeie vrouens is al in die kleedkamers aangeval en van hul selfone beroof.”
Die bestuurder van die sentrum en Pick ’n Pay, Herman Lotriet, het gesê dat alhoewel dié gewapende roof ’n afsonderlike voorval was, sal hulle nou ernstig na die veiligheid van die sentrum kyk.
Volgens gerugte het ’n lid van die taakmag in gewone klere op die stoep van die Commercial Hotel gesit en die toneel dopgehou. Twee van die verdagtes het ook op die stoep gaan sit, onbewus daarvan dat hulle dopgehou word.
Al vier verdagtes, Benjamin Teah, Mtetwe Msupusa, Thando Tanzanga en Mnanda Valelo van Khayalitsha, verskyn vandag in die Wellington landdroshof op klagtes van gewapende roof en besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.
* Wellington is still in shock after the shots and thwarted robbery in the centre of town on Wednesday last week.
More
News
|